Europese rugby ʼn tydige wekroep

Dit het die oorsese rugbyspanne jare geneem om die oogklappe af te skud, om te besef dat hulle by ʼn kruispad uitgekom het en dat daar geen omdraaipad is nie … en nou pluk hulle die vrugte daarvan.

Die Cheetahs en Southern Kings is nie die enigste maatstaf van Suid-Afrikaanse rugby nie, maar wanneer ʼn Italiaanse span soos Benetton jou in baie swak toestande in Treviso met 27-20 klop,  moet daar sekerlik op ag geslaan word. En dan praat ons nie eens van die loesing van 7-37 wat die Kings Vrydagaand teen Edinburgh in nat toestande teen die tuisspan gekry het nie.

Die dae is verby dat oorsese spanne nie balvaardige spelers ontwikkel nie, dat daar agterlangs vaart kort; ook dat die voorspelers nie ordentlik skrum nie, dat daar nie fisieke voorspelers is nie, dat die swak toestande spanne pootjie, dat daar nie drieë gedruk word nie en dat die verdediging maar bra power is.

Die Pro14-reeks (en vanselfsprekend ook die Engelse Premierliga, Franse Top14 en die Europese Kampioenebeker- en Uitdaagbekerreeks) is ʼn tydige wekroep. Nou kan ons weekliks ervaar hoe die oorsese spanne en spelers verbeter het, en hoe dit na die nasionale spanne oorspoel.

Die bal word baie meer gedra en wyd gespeel omdat die hantering, kommunikasie en besluitneming soveel beter is. Die spelers is baie beter afgerig, gekondisioneer en aanpasbaar by die toestande.

Hoekom? Want die invloed van minstens tien Nieu-Seelandse afrigters, ʼn rits hulpafrigters en ander ondersteuningspersoneel speel ʼn baie groot rol.

Vier Nieu-Seelandse afrigters rig Pro14-spanne af: Benetton deur die oud-All Black-heelagter Kieran Crowley,  Dave Rennie is in beheer by die Glasgow Warriors, Kieran Keane rig Connacht af en Wayne Pivac staan aan die spits van van verlede seisoen se kampioen, die Walliese Scarlets.

Dan is Todd Blackadder by Bath, Pat Lam by Bristol, Vern Cotter by Montpellier en Simon Mannix by Pau. Wat van Joe Schmidt (Ierland) en Warren Gatland (Wallis)?

Hulle dink, doen en voel dieselfde oor rugby.

Moenie my verkeerd verstaan nie, daar is puik plaaslike afrigters, al is van hulle soos Johan Ackermann en Johan van Graan oorsee en ʼn rits in Japan.

Maar word daar genoeg in Suid-Afrika gedoen? Hoekom volg elke span sy eie spelpatroon, hoekom ontwikkel en verbeter spelers se vaardighede wanneer hulle ’n paar seisoene oorsee gaan speel?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Frans C ·

Daar is ‘n eenvoudige antwoord op die vraag.Provinsialisme waar elke haan baas op sy eie mishoop is,en dan met pronk en praal soveel ‘henne’ na sy mishoop lok met die beste ‘graan’, as wat hy kan beskostig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.