Faf en ‘Maxi’ – ʼn vurige kombinasie

Faf du Plessis en Glenn Maxwell. (Foto: Twitter/RCB)

Die Royal Challengers Bangalore (RCB) het weliswaar gisteraand met agt lopies die onderspit teen die Chennai Super Kings (CSK) gedelf, maar Faf du Plessis en Glenn Maxwell het gewys dat hulle ʼn vurige kolfkombinasie is.

RCB moes 227 lopies vir ʼn oorwinning op die M Chinnaswamy-stadion aanteken en hulle was vroeg in die moeilikheid met die telling op 15/2 nadat Virat Kohli en Mahipal Lomror hul paaltjies verloor het.

Maar – en verskoon tog as dit dalk soos ʼn o. 13-rugbyafrigter se toespraak klink – diamante word onder druk gevorm en Du Plessis het saam met Maxwell die bul by die horings gepak.

Hulle het saam 126 lopies van slegs 61 aflewerings om die derde paaltjie aangeteken en RCB het ʼn definitiewe kans gestaan om die wedstryd te wen.

Maxwell is egter vir 76 lopies uitgehaal, terwyl Du Plessis ʼn paar boulbeurte later ook die pad terug na die kleedkamer moes aanpak; hy het 62 lopies aangeteken.

Die twee kolwers het altesaam 12 sesse in hul warrelwindbeurte gemoker, maar die Bangalore-trein het later stoom verloor.

Dit is nie die eerste keer dat Du Plessis en Maxwell vir ʼn vuurwerkvertoning sorg nie.

Hulle het ook teen die Lucknow Super Giants amok gemaak toe hul flitsende kolwe vir 115 lopies om die tweede paaltjie verantwoordelik was.

Du Plessis is tans die voorste lopiemaker in die toernooi. Hy het 259 lopies teen ʼn gemiddeld van 64,75 gemoker, terwyl Maxwell sy 176 lopies teen ʼn treftempo van 197 slaan.

  • Opsomming van telkaart:

Chennai Super Kings 226/6 in 20 boulbeurte: Devon Conway 83, Shivam Dube 52 en Wanindu de Silva 1/21.

Royal Challengers Bangalore 218/8 in 20 boulbeurte: Glenn Maxwell 76, Faf du Plessis 62 en Tushar Deshpande 3/45.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fran ·

You cant get a good man down! Skaamte vir KSA! Korrupte spul!

Frank ·

Op die wereld verhoog het KSA het nog nooit in silwerware belanggestel nie, slegs “politieke” punte……en so ly sportmanne daaronder

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.