Grenshoue rol van Aiden se kolf

Aiden Markram op die voorvoet teen die plaaslike boulers. Foto: Twitter via Titans.

Ná die Titans se eerste twee wedstryde in die plaaslike eendagkrieketreeks, is dit duidelik dat Aiden Markram se kolf steeds die praatwerk kan doen.

Die 28-jarige kolwer het eers 80 lopies van 62 aflewerings teen die Lions geslaan, waarna hy die speler van die wedstryd-toekenning ontvang het vir sy 89 lopies van 71 balle teen die Warriors op SuperSportpark in Centurion.

Hy is tans die voorste lopiemaker in die reeks en hy slaan sy lopies teen ʼn gemiddeld van 84,50 en ʼn treftempo van 127.

Hoewel Markram se lig helder in witbalkrieketwedstryde skyn, sukkel hy op die toetsverhoog en hy is nie deel van die Protea-toergroep na Australië nie.

Hy kon slegs 36 lopies in die onlangse reeks teen Engeland aanteken, terwyl hy in Junie 2021 laas ʼn vyftigtal in internasionale vyfdagkrieket kon vier.

ʼn Gemiddeld van 34 ná 33 toetse is nie goed genoeg vir ʼn speler van sy kaliber nie.

Eintlik is die Titans-kolwer ʼn enigma. Hy beskik ongetwyfeld oor bakkievragte talent, maar wanneer sy selfvertroue ’n knou kry, lyk dit soms of hy sal sukkel om ’n lopie by ’n Shoprite-uitverkoping te koop.

Tog – veral wat die estetiese waarde van sy houespel betref – is hy een van die bestes op die wêreldverhoog wanneer hy op alle suiers vuur. Die Titans het tans sekerlik geen klagtes oor hul sterkolwer nie.

Voorste lopiemakers in die plaaslike eendagreeks:

  1. Aiden Markram (Titans): 169 lopies teen ʼn gemiddeld van 84,50
  2. Lesego Senokwane (Noordwes): 155 lopies teen ʼn gemiddeld van 79,50
  3. Tristan Stubbs (Warriors): 144 lopies teen ʼn gemiddeld van 144
  4. Bradley Porteous (Dolphins): 133 lopies teen ʼn gemiddeld van 133
  5. Ryan Rickelton (Lions): 126 lopies teen ʼn gemiddeld van 126.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Beteken niks in die reeks nie, bowl werk is nie naastenby waar dit moet wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.