Head, Labuschagne staan sterk in draaiersparadys

Marnus Labuschagne vier Australië se oorwinning in die derde toets teen Indië. Foto: Twitter.

Nadat Indië die eerste twee toetse teen Australië onderskeidelik met ʼn beurt en 132 lopies en met ses paaltjies gewen het, het die Aussies vandag die tuisspan in eie munt terugbetaal.

Die Australiërs het die derde toets in Indore met nege paaltjies gewen nadat Travis Head en Marnus Labuschagne staande gebly het teen Ravichandran Ashwin en Ravindra Jadeja se draaiersaanslag.

Vroeër het goeie boulwerk deur Nathan Lyon en Matthew Kuhnemann gesorg dat die besoekers gunstig geposisioneer is om die wedstryd te wen.

Steve Smith, wat die kapteinskapleisels in Pat Cummins se afwesigheid vasgehou het, is in sy noppies met sy span se veggees.

“Ons moes baie hard vir hierdie oorwinning werk, maar ons het nooit handdoek ingegooi nie. Al ons boulers verdien ongetwyfeld ʼn klop op die skouer, selfs al het Nathan die meeste paaltjies geneem.”

Volgens Smith geniet hy die kapteinskapuitdaging in Indië.

“Dit is heeltemal anders om in Indië krieket te speel, maar ek glo dat ek die toestande onder die knie het. Ons het nou baie beter as in die eerste twee toetse gespeel en hopelik kan ons met ʼn soortgelyke vertoning in Ahmedabad vorendag kom.”

Om die draaiers se oorheersing van die spel in perspektief te plaas: Ashwin, Lyon en Jadeja het reeds tussen hulle 58 paaltjies in die drie toetse laat kantel, terwyl Rohit Sharma tot dusver die enigste honderdtal van die reeks kon aanteken.

Die vierde toets begin op 9 Maart in Ahmedabad.

  • Opsomming van telkaart:

Indië 109/10 in 33,2 boulbeurte: Virat Kohli 22, Matthew Kuhnemann 5/16 en Nathan Lyon 3/35.

Australië 197/10 in 76,3 boulbeurte: Usman Khawaja 60, Marnus Labuschagne 31 en Ravindra Jadeja 4/78.

Indië 163/10 in 60,3 boulbeurte: Cheteshwar Pujara 59 en Nathan Lyon 8/64.

Australië 78/1 in 18,5 boulbeurte: Travis Head 49* en Marnus Labuschagne 28*.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.