Honderd op die telbord vir Marizanne!

Marizanne Kapp speel ’n aanvallende hou. Foto: Cricinfo.

Marizanne Kapp het in 2009 haar debuut vir die Proteas teen Australië gemaak. Nou speel sy vandag haar 100ste wedstryd vir die nasionale vrouekrieketspan, wanneer hulle Pakistan op Senwespark op Potchefstroom aandurf.

Die 29-jarige veelsydige speler het sedert haar buiging reeds 109 paaltjies in 99 kragmetings geneem en terselfdertyd 1 708 lopies aangeteken.

Saam met Shabnim Ismail is sy een van die mees gevreesde boulkombinasies in die moderne era van vrouekrieket.

“Dit is ’n massiewe voorreg om 100 wedstryde vir jou land te speel. Dit is iets waaroor jy net kan droom. Ek het trouens net daarvan gedroom om vir my land te speel, om nie eens van 100 wedstryde te praat nie!” het Kapp gesê.

“Toe ek destyds my eerste wedstryd gespeel het, was ek effens op my senuwees en ek het ook hoegenaamd nie geoefen soos wat ek deesdae voorberei nie. Een van my beste herinneringe saam met die span is toe ons die halfeindstryd van die Wêreldbeker in Engeland gehaal het; en ek hoop ons kan op dié prestasie verbeter voordat ek uittree.”

Sy het steeds hope ambisie en droom daarvan om die Wêreldbeker te wen.

“Dit is nogal hartseer dat ek 100 internasionale eendagwedstryde gespeel het, maar nog nie een kragmeting op my tuisveld (Port Elizabeth) gespeel het nie.”

Suné Luus, die Proteakaptein, het gesê dat dit ’n eer is om saam met Kapp te speel. “Kappie is in ’n klas van haar eie,” het Luus gesê.

“Sy is een van die ouer spelers in die span, maar sy is fikser as ons almal en werk harder as enigeen om haar vaardighede op te skerp. Sy is ’n ongelooflike leier en stel ’n goeie voorbeeld vir al die jonger spelers om na te volg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kolla ·

En toe kry die hele span vandag 60 lopies teen Pakistan. LOL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.