IKR vereer Suid-Afrikaanse krieketlegende

(Argieffoto)

Jonger krieketliefhebbers weet dalk nie veel van hom nie, maar voordat Suid-Afrika met ’n Jacques Kallis en ’n Mike Procter kon spog, was Aubrey Faulkner die land se veelsydige ster.

Die legendariese Faulkner is nou saam met spelers soos Desmond Haynes, Andy Flower en Kumar Sangakkara in die Internasionale Krieketraad (IKR) se heldesaal opgeneem.

Die Port Elizabeth-boorling het in 1906 sy internasionale buiging teen Engeland in Johannesburg gemaak en hy het uiteindelik vir Suid-Afrika in 25 toetse verteenwoordig.

Hy het 1 754 lopies (met ’n hoogste telling van 204 teen Australië) teen ’n gemiddeld van 40,79 geslaan, terwyl sy goëlballe 82 paaltjies teen ’n spoggemiddeld van 26,58 laat kantel het.

In 1907 het hy in al sy wedstryde vir Suid-Afrika (wat dan ook toerwedstryde teen eersterangse spanne ingesluit het) 1 288 lopies gemoker en 73 paaltjies geneem.

Volgens die biograaf Brian Bassano was Faulkner ’n unieke speler wat maklik vir enige internasionale span in sy era gekies sou word.

“Die maatstaf waarteen ’n goeie veelsydige speler gemeet moet word, is om te kyk of hy die toetsspan uitsluitlik as ’n kolwer of ’n bouler sou kon haal. Faulkner was ongetwyfeld een van die merkwaardige spelers wat dit kon doen,” het Bassano geskryf.

En die Suid-Afrikaner het nie net met die kolf en bal uitgeblink nie, hy was ook ’n uitstekende veldwerker.

“Hy was ’n bobaas-glipveldwerker en in sy jonger dae – toe ratsheid en beweeglikheid nie veel van ’n probleem was nie – het hy ook goeie werk op die grens gedoen.”

Faulkner het in die Eerste Wêreldoorlog onder meer aksie in Egipte en die Wesfront in Europa gesien en hy is uiteindelik na die rang van majoor bevorder.

Op sy beurt is Andy Flower Zimbabwe se beste krieketspeler ooit. In 63 toetse het hy 4 794 lopies teen ’n gemiddeld van amper 52 geslaan. As paaltjiewagter het hy van 160 kolwers ontslae geraak.

Meer onlangs het hy as afrigter naam in Engeland gemaak en saam met spelers soos Kevin Pietersen, Andrew Strauss en James Anderson gesorg dat die Engelse die voorste toetsspan ter wêreld geword het.

Boonop het hulle ook twee keer die Reeks om die As teen Australië gewen. Vra maar vir enige Engelse krieketspeler: Daardie houertjie met die verbrande dwarsbalkies is die belangrikste silwerware in toetskrieket.

Gedurende die Wêreldbeker-kriekettoernooi van 2003 hier in Suid-Afrika het Flower en Henry Olonga ook gewys dat hulle twee van die moedigste spelers in die geskiedenis van die spel is.

Die twee het swart armbande gedra terwyl hulle op die veld was. Toe hulle oor die simboliek daarvan gepols is, het hulle ’n verklaring uitgereik met dié treffende woorde: “Ons treur oor die dood van demokrasie in ons geliefde Zimbabwe”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Ek lig my hoed vir Andy Flower. Om in so ‘n swak toetsspan wat omtrent altyd verloor het deurlopend so ‘n prestasie te kon lewer, is absoluut ongelooflik en uitstaande. Wie weet wat sy gemiddelde sou wees indien hy in ‘n sterk span gespeel het waar die druk om sy spanmaats te dra nie so groot was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.