Indië slaan met mening terug in vierde toets

Ravichandran Ashwin het vyf paaltjies in Engeland se tweede kolfbeurt geneem. (Foto: Tauseef Mustafa/AFP)

ʼn Toets is nooit verby totdat ʼn kolwer die wenlopies slaan of ʼn bouler die laaste paaltjie laat kantel nie.

Engeland het gister nog die hef in die hand gehad in die vierde toets teen Indië in Ranchi, maar vandag het die tuisspan met mening teruggeslaan.

Dhruv Jurel se vinnige 90 lopies het gesorg dat Indië binne trefafstand van Engeland se eerstebeurttelling is, waarna Ravichandran Ashiwn en Kuldeep Yadav se boulwerk die besoekende kolwers deurmekaar gedraai het.

Teen uitskeityd benodig Indië net ʼn verdere 152 lopies om die toets – en die reeks – te beklink.

ʼn Mens kan seker nooit vir Engeland onderskat nie, maar kaptein Ben Stokes sal ʼn hengse kriekethaas uit die hoed moet pluk as die besoekers dié wedstryd wil wen.

Shoaib Bashir en Tom Hartley egter het wel in Indië se eerste kolfbeurt gewys dat hulle oor die vermoë beskik om vinnig paaltjies te neem.

Bashir het ook na afloop van die spel gesê dat die Engeland-boulers oorgehaal is om die wedstryd vir hul span te wen.

“Die kolfblad is besig om streke uit te haal. Sommige van die aflewerings het opgeskiet, terwyl van die ander balle amper weer na die paaltjiewagter gerol het. Dit is ʼn goeie teken vir ons.”

Volgens die Engeland-draaier het Stokes en Brendon McCullum (afrigter) vir hom en Hartley met ʼn rede gekies – hul lengte kan vir probleme op die baanblad sorg.

  • Opsomming van die telkaart:

Engeland 353/10 in 104,5 boulbeurte: Joe Root 122*, Ollie Robinson 58 en Ravindra Jadeja 4/67.

Indië 307/10 in 103,2 boulbeurte: Dhruv Jurel 90, Yashasvi Jaiswal 73 en Shoaib Bashir 5/119.

Engeland 145/10 in 53,5: Zak Crawley 60, Ravichandran Ashwin 5/51 en Kuldeep Yadav 4/22.

Indië 40/0 in 8 boulbeurte: Rohit Sharma 24*.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.