Is dit tyd om ʼn noodoproep na Morris, De Villiers te maak?

AB de Villiers en Chris Morris. Foto: Geoff Caddick/AFP.

Die Proteas het gister op die Wanderers nog ’n T20-wedstryd op die internasionale verhoog verloor toe Pakistan hulle met vier paaltjies geklop het.

Die Suid-Afrikaners is volgens die Internasionale Krieketraad die sesde beste T20-span ter wêreld; net ’n kortkop voor Afganistan.

Daar is baie goeie spelers soos Quinton de Kock, David Miller en Kagiso Rabada in die Protea-opset, maar in ’n Wêreldbeker-jaar wil jy jou beste spelers tot jou beskikking hê om uiteindelik met die silwerware weg te stap.

Ja, in ’n Suid-Afrikaanse konteks met onder andere transformasie-teikens is dit moeilik om altyd jou beste span te kies, maar is dit nie tyd om ’n noodoproep na AB de Villiers en Chris Morris te maak nie?

Kyk net na die twee se eersterangse T20-statistiek.

In 326 wedstryde het De Villiers reeds 9 159 lopies teen ’n gemiddeld van 37,53 en ’n uitstekende treftempo van 150,32 geslaan.

Op sy beurt het Morris in 223 wedstryde 275 paaltjies laat spat, terwyl hy sy lopies ook teen ’n treftempo van hoër as 150 per kolfbeurt gemoker het.

Daarbenewens is dit binne al twee se vermoëns om meesterlike vertonings in Indië te lewer; die komende internasionale skouspel word juis later vanjaar daar aangebied.

AB de Villiers. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

De Villiers het Vrydagaand in die openingswedstryd van die Indiese Premierliga 48 lopies van slegs 27 aflewerings vir die Royal Challengers Bangalore gemoker om die wedstryd teen die Mumbai Indians te wen.

Soos die Bangalore-kaptein Virat Kohli al vantevore gesê het: De Villiers is ’n man wat in enige situasie ’n haas uit die hoed kan pluk.

Die 37-jarige voormalige Protea-kaptein is verder as die mees verwoestende kolwer in IPL-geskiedenis aangewys, terwyl Ravi Shastri (Indië se hoofafrigter) al gepleit het dat De Villiers weer op die internasionale verhoog losgelaat word.

“Dit sal goed wees vir die spel,” was sy presiese woorde.

Dan het Morris die rekordboeke herskryf toe die Rajasthan Royals vroeër amper R32 miljoen uitgehaal het om sy dienste vir die IPL te bekom.

Met die volgende T20-Wêreldbeker om die draai kan Morris ’n sleutelrol vir die nasionale span speel. Tog wil hy eerder nie nou te veel aandag op ’n moontlike terugkeer vestig nie.

Chris Morris (Foto: Twitter)

“Ek het nog nie eens so ver gedink nie. Tans fokus ek net op my vertonings vir die Rajasthan Royals en ek sal aandag aan die Wêreldbeker skenk wanneer ons daar kom. Maar vir eers gaan ek my beste hier vir die Royals lewer.”

Terselfdertyd het Victor Mpitsang, Suid-Afrika se keurderbaas, gesê dat De Villiers nie vir internasionale wedstryde beskikbaar is nie.

Dit sal egter geen skade doen om net te vra of hulle in die T20-Wêreldbeker sal wil speel nie. ’n Span met ’n De Villiers en ’n Morris in sy geledere lyk baie sterker as een sonder die twee name.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

As ek Morris was sou ek nie weer vir die Proteas gespeel het nie.Kyk na die onlangs T 20 wedtryd teen Pakistan.Sommige van die spelers was parte.

Chris dupreez ·

Dit is nog steeds 2 van die beste spelers in die wereld

SomeOne ·

“Internasionale Krieketraad die sesde beste T20-span ter wêreld;” 6de of 60ste, proteas is nie so goed nie

SwartBees ·

Met als wat in die Protea krieket span aan gaan wil ek ook nie vir hulle speel nie.

Christo ·

Daar is nie n manier dat die chokers n wêreld beker kan wen nie. Dit sal veel meer as de Villiers en Morris verg. Dit sal verg dat die beste krieket span gekies word, nie die beste transformasie span nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.