Jansen se krieketster skitter in Indië

Marco Jansen beïndruk met sy veelsydige vertonings in Indië. (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

Marco Jansen is ongetwyfeld een van die Proteas se waardevolste spelers in Indië. Die 23-jarige hemelbesem – hy laat die maatband tot 2,06 m rek – slaan gereeld sesse teen die einde van ʼn kolfbeurt, terwyl hy ook paaltjies in die belangrike kragspelfase neem.

Dit sal ʼn mens nie verbaas as hy saam met Quinton de Kock, Heinrich Klaasen en Aiden Markram een van die eerste name is wat afrigter Rob Walter op sy spanlys vir ʼn komende wedstryd invul nie.

Sy vermoë om paaltjies aan die begin van ʼn kolfbeurt te laat kantel maak van hom een van die topboulers in die Wêreldbeker-toernooi. Net Sri Lanka se Dilshan Madushanka het tans meer kolwers as die Potchefstroom-boorling terug na die kleedkamer gestuur.

Tog is dit sy aanvallende kolfwerk wat krieketliefhebbers opgewonde maak.

Jansen lê gereeld die langsteel in wanneer hy voor die paaltjies is. Sy onoorwonne beurt van 75 lopies het juis ʼn deurslaggewende rol in die Proteas se spogvertoning teen Engeland gespeel en spanmaat Klaasen het sy lof besing.

“Marco het uitstekend gespeel. Hy het vir my gesê dat ek nie van die veld af mag stap voordat ek ʼn honderdtal aangeteken het nie,” het Klaasen gesê nadat hy 109 lopies in die wedstryd aangeteken het.

Jansen geniet sy kolfwerk. (Foto: Riaan de Bruyn/RDB Photography)

Maar wat verkies die veelsydige ster – om te kolf of om te boul?

“Ek is mal daaroor om te kolf en dit is iets wat my baie vreugde verskaf,” het Jansen aan Cricinfo gesê.

“Ek geniet natuurlik my boulwerk ook baie, maar dit verg ʼn bietjie harder werk. Jy kan nie altyd met alles wegkom nie en dit is nie lekker om te sien hoe die bal oor die grenstou seil wanneer dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie.”

Om 16 Wêreldbeker-paaltjies te neem is egter ʼn uitstekende prestasie en Kagiso Rabada meen dat sy spanmaat oor natuurlike boultalent beskik.

“Hy boul uitstekende lengtes en hy kan die bal in enige rigting swaai terwyl hy ook oor ʼn gevaarlike opslagbal beskik. Daarbenewens het hy ʼn baie natuurlike aksie en hy laat die dinge net maklik op die veld lyk,” het die Protea-snelbouler gesê.

Jansen sal ʼn belangrike skakel in die Protea-span vir Sondag se wedstryd teen Indië wees. Hy het juis as ʼn 17-jarige vir Virat Kohli en kie laat bontstaan toe hy vir hulle in die nette op hul toer na Suid-Afrika geboul het.

  • Jansen se Wêreldbeker-statistieke:

Kolfwerk: 143 lopies in ses beurte teen ʼn gemiddeld van 47,66 en ʼn treftempo van 128,82.

Boulwerk: 16 paaltjies in sewe wedstryde teen ʼn gemiddeld van 20,06 en ʼn treftempo van 20,6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.