Johnson meen Warner verdien nie swanesang-toets

Mitchell Johnson en David Warner. (Foto: Ian Kington/AFP)

Die tafel kan gedek wees vir David Warner se laaste rooibalkrieketwedstryd teen Pakistan, maar ʼn eertydse spanmaat het die fanfare rondom die gordynsak-oomblik bevraagteken.

“Dit is nou al vyf jaar later en David Warner het nog nooit regtig hand in eie boesem oor die balpeuterskandaal gesteek nie. Nou getuig die groot bohaai wat met sy laaste toets gepaardgaan van die einste arrogansie,” het Mitchell Johnson in sy rubriek vir The Western Australian geskryf.

Beeldmateriaal van die 2018-toets op Nuweland teen die Proteas het gewys hoe die Aussies – heel waarskynlik met ’n stukkie skuurpapier – aan die bal werskaf om omgekeerde swaai te probeer bewerkstellig.

Steve Smith, destydse kaptein van Australië, het ’n kort rukkie daarna in trane uitgebars toe hy vir krieketondersteuners wêreldwyd om verskoning gevra het vir sy rol in die skandaal, terwyl Warner en Cameron Bancroft ook vir ’n paar maande uit die spel geskors was.

Volgens Johnson – wat 313 paaltjies in sy 73 toetse vir Australië laat spat het – verdien die 37-jarige Warner nie noodwendig ’n rooitapyt-oomblik op die kolfblad nie.

“Kan iemand asseblief vir my verduidelik hoe ’n sukkelende openingskolwer toetskrieket sommer so op sy eie voorwaardes vaarwel roep? In dieselfde asem kan ’n mens ook vra hoe ’n speler – wat ’n reuserol in een van die grootste skandale in Australiese krieket gespeel het – soos ’n held gegroet word?”

In sy laaste 36 kolfbeurte handhaaf Warner ’n gemiddeld van net meer as 26 en ’n bitsige Johnson meen dat dit pleinweg nie goed genoeg is nie.

Dit is egter sy betrokkenheid in die skuurpapier-fiasko wat vir die bitterste smaak in die oudsnelbouler se mond sorg.

“Warner was weliswaar nie die enigste betrokkene nie, maar hy was ’n senior speler en iemand wat daarvan gehou het om sy mag as ’n sogenaamde “leier” te misbruik. Verdien hy werklik ’n swanesang teen Pakistan; iets wat ’n jaar vooraf aangekondig is asof hy groter is as die spel of die Australiese krieketspan?”

Australië-groep vir die eerste toets teen Pakistan: Pat Cummins (kaptein), Scott Boland, Alex Carey, Cameron Green, Josh Hazlewood, Travis Head, Usman Khawaja, Marnus Labuschagne, Nathan Lyon, Mitchell Marsh, Lance Morris, Steve Smith, Mitchell Starc en David Warner.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Darm het CA opgetree, CSA het ons ball tamperers opgehef, self n groter posisie van verantwoordelikheid gegee. Mense moet onthou, die ICC het hulle vir 2 toetse geskors, CA het ingetree met 12maand skorsing. CSA het teen die ICC baklei, toe Faf, Philander, Faf en kie gevang was (meer as een keer)

Jack Russ1 ·

Johnson was ook maar arrogant toe hy gespeel het, lekker om nou jou mond uit te spoel oor ander spelers nou dat hy nie meer speel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.