Kapp-lose Proteas sukkel in Perth

Suid-Afrika se Laura Wolvaardt en Australië se Alyssa Healy. (Foto: X/Cricket.com.au)

In Marizanne Kapp se afwesigheid is die Protea-vrouekrieketspan vir 76 lopies in die eenmalige toets teen Australië in Perth uitgeboender.

Kapp, wat ʼn barshou in die afgelope witbalkrieketreeks teen die Aussies gespeel het, was glo olik in aanloop tot die toets en kaptein Laura Wolvaardt het tydens die muntopskietsessie bevestig dat sy nie gaan speel nie.

Benewens Suné Luus (26 lopies) en Masabata Klaas (10 lopies) kon nie een van die ander Protea-kolwers meer as ses lopies aanteken nie en al die kolwers was in die 32ste boulbeurt reeds terug in die kleedkamer.

Die 20-jarige Darcie Brown was ʼn doring in die Suid-Afrikaners se vlees en sy het vyf paaltjies laat kantel.

In antwoord op die besoekers se beskeie kolfpoging, laat wiel die tuisspan omtrent met die kolf in hand.

Beth Mooney en Alyssa Healy geniet tans ʼn onoorwonne vennootskap van 145 lopies om die vierde paaltjie en die Aussies slaan hul lopies teen amper vyf lopies per boulbeurt.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 76/10 in 31,2 boulbeurte: Suné Luus 26, Darcie Brown 5/21 en Annabel Sutherland 3/19.

Australië 157/3 ná 32,5 boulbeurte: Beth Mooney 74*, Alyssa Healy 69* en Masabata Klaas 3/8.

  • Spanne:

Suid-Afrika: Laura Wolvaardt (kaptein), Anneke Bosch, Suné Luus, Tazmin Brits, Delmi Tucker, Chloe Tryon, Nadine de Klerk, Sinalo Jafta, Nonkululeko Mlaba, Masabata Klaas en Ayanda Hlubi.

Australië: Phoebe Litchfield, Beth Mooney, Ellyse Perry, Tahlia McGrath, Alyssa Healy, Annabel Sutherland, Ashleigh Gardner, Sophie Molineux, Kim Garth, Alana King en Darcie Brown.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.