Kaptein Morgan bêre sy beenskutte

Eoin Morgan. Foto: Twitter.

Eoin Morgan, Engeland se witbalkrieketkaptein van Ierse herkoms, het sy internasionale uittrede aangekondig.

Onder die 35-jarige kolwer se bekwame leiding het Engeland die Wêreldbeker-toernooi in 2019 gewen, terwyl hulle ook ranglysgewys as die beste krieketspan in die eendag- en T20-formate bekendgestaan het.

Maar hy het die afgelope jaar kwaai met sy spelpeil gesukkel en hy het selfs gedurende die T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate aangedui dat hy bereid is om homself uit die span te laat as dit Engeland se wenkans sou verbeter.

Sy uittrede is onmiddellik van krag.

“Dit was glad nie ’n maklike besluit nie, maar ek glo dat dit die beste pad vorentoe vir myself en vir Engeland se witbalkrieketspanne is,” het Morgan gesê.

Hy het uiteindelik in 225 eendagwedstryde vir Engeland gespeel en 6 957 lopies geslaan. Sy 202 sesse is ook die meeste nóg deur ’n Engelse kolwer.

“Vandat ek my buiging vir Ierland gemaak het totdat ek die silwerware in 2019 saam met Engeland omhoog gehou het, het ek nog nooit die ondersteuning van my gesin onderskat nie. Ek wil graag my ouers en my vrou vir hul ongelooflike ondersteuning bedank. Sonder julle sou baie dinge onmoontlik gewees het.”

Hy sal egter nog beskikbaar wees vir plaaslike spanne en hy sal die London Spirit in die komende Hundred-reeks aanvoer.

Volgens Britse mediaberigte is die aanvallende Jos Buttler die gunsteling om die kapteinskapleisels in die reekse teen Indië en Suid-Afrika vas te vat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.