Khawaja, Lyon loof ‘superster’ Labuschagne

Marnus Labuschagne. Foto: Jeremy Ng/AFP.

Terwyl dit beroerd gaan met krieket in Suid-Afrika, moet ’n mens die vangnet wyer gooi om ’n bietjie broodnodige trots raak te vang.

En Marnus Labuschagne stel nie sommer teleur nie.

Die Suid-Afrikaans gebore Australiër spog met ’n toetsgemiddeld van 60,18 sedert hy sy buiging 18 wedstryde gelede vir die Aussies gemaak het. Maar dit is sy onlangse spelpeil in Sheffield Shield-wedstryde wat ondersteuners laat regop sit.

Labuschagne en sy Queensland-spanmaats het New South Wales in die afgelope naweek se eindstryd ore aangesit en die voormalige Klerksdorper het met ’n spogbeurt van 192 vorendag gekom.

Om sy beurt in perspektief te plaas: Geen ander kolwer kon ’n vyftigtal op ’n moeilike blad in Brisbane slaan nie.

Nathan Lyon, NSW en Australië voorste draaier, het gesê dit is die beste wat hy vir Labuschagne nog gesien kolf het.

“Hierdie was sy beste vertoning ooit. Hy was ongelooflik geduldig, hy het vertroue in sy verdediging geplaas en hy kon die boulers met die grootste gemak manipuleer om na sy sterk punte te boul,” het Lyon gesê.

Labuschagne het vroeër vanjaar een van sir Donald Bradman se lopierekords verbeter, terwyl hy vier honderdtalle in die Sheffield-reeks geslaan het.

“Daar is ’n hele paar spelers op my lysie van die beste kolwers na wie ek ooit geboul het. Maar Marnus is ongetwyfeld besig om ’n paar ranglysspronge daar te maak. Ek dink hy is reeds ’n superster, maar hy beskik oor die vermoë om een van die wêreld se grootste spelers te word.”

Usman Khawaja, sy Queensland-kaptein, het gesê dat Labuschagne deesdae ’n ongelooflike bestendige speler is en dat hy weet waartoe hy in staat is en wat van hom as kolwer verwag word.

“Ek het gesien hoe Steve Smith iets soortgelyk doen. En kyk hoe goed is hy vandag,” het Khawaja gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.