Kiwi’s beklink geskiedkundige reeksoorwinning

Kane Williamson het met sy onoorwonne honderdtal die wa deur die drif vir die Swartpette teen die Proteas getrek. (Foto: Fiona Goodall/AFP)

Die Swartpette het ʼn geskiedkundige toetsreeksoorwinning oor die Proteas behaal toe hulle die tweede toets met sewe paaltjies in Hamilton gewen het.

Die Nieu-Seelanders het Suid-Afrika met 281 lopies in die eerste toets op die Bay Oval verrinneweer.

Daar was weliswaar nou ʼn paar ligpunte in die onervare Protea-span se vertoning: Kyk net na David Bedingham se spoggerige honderdtal en Dane Piedt se vyf paaltjies vroeër in die kragmeting.

Maar die Suid-Afrikaanse boulaanval kon net nie in die Kiwi’s se lopiejaagtog die uitklophou plant nie en Kane Williamson het sy derde honderdtal van die reeks geslaan.

Die voormalige Swartpet-kaptein het die kragmeting én reeks met ʼn grenshou van Tshepo Moreki se boulwerk beklink en hy het verrigtinge met ʼn onoorwonne 133 lopies afgesluit.

Hy het oordeelkundige krieket gespeel, die goeie aflewerings van sy paaltjies weggehou en die swak balle na die grens gestuur.

Williamson het ʼn goeie bondgenoot in Will Young gevind en saam het hulle 152 lopies om die vierde paaltjie aangeteken om die fut uit die Protea-seile te slaan.

Piedt het weer eens die beste onder die besoekers se boulers gevaar en hy het agt paaltjies in die toets geneem.

Dan verdien Bedingham ongetwyfeld sy plek in die elftal – selfs wanneer die A-span weer beskikbaar is. Die 29-jarige kolwer kan dalk die Mike Hussey van Suid-Afrikaanse krieket word.

Hussey was 30 jaar oud toe hy sy toetsbuiging vir Australië gemaak het en hy het uiteindelik meer as 6 000 toetslopies teen ʼn gemiddeld van 51,52 geslaan.

Maar intussen is dit nie lekker om ʼn reeks teen Nieu-Seeland te verloor nie. Selfs al het ʼn mens vooraf geweet dat dít die waarskynlike uiteinde gaan wees.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 242/10 in 97,2 boulbeurte: Ruan de Swardt 64, David Bedingham 39 en William O’Rourke 4/59.

Nieu-Seeland 211/10 in 77,3 boulbeurte: Kane Williamson 43, Dane Piedt 5/89 en Dane Paterson 3/39.

Suid-Afrika 235/10 in 69,5 boulbeurte: David Bedingham 110, Keegan Petersen 43 en William O’Rourke 5/34.

Nieu-Seeland 269/3 in 94,2 boulbeurte: Kane Williamson 133*, Will Young 60* en Dane Piedt 3/93.

Uitslag: Nieu Seeland wen met sewe paaltjies en beklink die reeks met 2-0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kiepie ·

Fran, jy’s verkeerd. Hierdie uiters teleurstellende vertoning is nie agv raskwotas nie maar eerder agv swak beplanning en geldgierigheid. Hoe kan KSA ‘n toetsreek reël teen ‘n eersterangse land op dieselfde tyd as wanneer hul grootste “money spinner”-toernooi, die SA20, aan die gang is. Hulle het mos geweet daardie toernooi is vir beide hulleself sowel as al hul eersterangse spelers prioriteit. Dis ‘n verleentheid.
Maar wel gedaan aan die jong spelers wat uitgegaan en hul aller beste probeer het. Hoop nie ASA se onbekwaanmheid het hulle ‘n sielkundige knou gegee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.