Kiwi’s Kane-loos teen Proteas

Nieu-Seeland se Kane Williamson. Foto: Sajjad Hussain/AFP.

Kane Williamson, Nieu-Seeland se kaptein en die derde beste toetskolwer ter wêreld, sal nie deel van die komende reeks tussen die Kiwi’s en die Proteas wees nie.

Die 31-jarige speler het nog nie voldoende van ’n elmboogbesering herstel wat hy verlede jaar opgedoen het nie.

Volgens Gary Stead (Nieu-Seeland se afrigter) wou Williamson bitter graag teen die Suid-Afrikaanse boulers stelling ingeneem het.

“Die hoofprioriteit is egter nou dat hy volkome van sy besering sal herstel sodat hy nog vir baie wedstryde beskikbaar sal wees,” het Stead gesê.

Tom Latham sal nou Williamson se kapteinskap-skoene volstaan, terwyl Hamish Rutherford (kolwer) en Collin de Grandhomme (veelsydige speler) ook weer nadergetrek is.

Maar selfs in hul kaptein se afwesigheid sal die Kiwi’s steeds ’n sterk span vir die toetsreeks beskikbaar hê.

Neil Wagner en Devon Conway vier ’n paaltjie. Foto: David Rowland/AFP.

En in Devon Conway en Neil Wagner het hulle twee Suid-Afrikaans‑gebore spelers wat oorgehaal is om ’n stewige vertoning teen hul geboorteland te lewer.

Hoewel die 30-jarige Conway destyds gesukkel het om sy stempel vir Suid-Afrikaanse eersterangse spanne af te dwing, lewer hy deesdae vuurwarm vertonings in die kleure van Nieu-Seeland.

Hy het vroeër sy derde honderdtal in skaars sy vyfde toets geslaan toe hy 109 lopies teen Bangladesj in Christchurch aangeteken het.

In nege kolfbeurte het hy reeds 623 lopies geslaan – slegs Sunil Gavaskar (831) en George Headley (714) kon meer lopies in hul eerste vyf toetse moker.

In die proses het Conway die eerste speler in die geskiedenis geword om 50 of meer lopies (200, 80, 54, 122 en 109) in die eerste kolfbeurt van sy eerste vyf toetse te slaan.

Dan sal Wagner die besoekers met sy aggressiewe boulwerk wil laat bontstaan.

Die oudleerling van Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria is tans die negende beste bouler op die wêreldtoetskrieket-ranglys en hy het reeds 235 paaltjies in 56 wedstryde vir sy aangenome land laat spat.

Die eerste toets tussen die Proteas en Nieu-Seeland begin op 17 Februarie in Christchurch.

Nieu-Seeland: Tom Latham (kaptein), Tom Blundell, Devon Conway, Colin de Grandhomme, Cam Fletcher, Matt Henry, Kyle Jamieson, Daryl Mitchell, Henry Nicholls, Rachin Ravindra, Hamish Rutherford, Tim Southee, Blair Tickner, Neil Wagner en Will Young.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jr ·

Hoop ons verloor in ons ( nut that goes on a bolt) in.Knielende chockers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.