Krieket: Reën bring verligting vir lopiedroogte

Kagiso Rabada en Faf du Plessis verlaat die veld tydens die toets teen Engeland. (Foto: Michael Sheehan/AP)

Die sagte reën wat Saterdag vir ʼn hele paar uur oor St. Georgepark in Port Elizabeth uitgesak het, het ʼn bietjie verligting gebring vir die droogtegeteisterde Oos-Kaap, asook vir die Proteas, wie se lopiedroogte voortduur.

Suid-Afrika was met uitskeityd op die derde dag van die derde toets teen Engeland steeds kniediep in die knyp op 208/6, ʼn agterstand van nog 291 met slegs vier paaltjies staande nadat Engeland ʼn reusetelling van 499/9 in sy eerste beurt aangeteken het.

Quinton de Kock (63*) en Vernon Philander (27*) het reeds ʼn vennootskap van 54 lopies om die sewende paaltjie opgestel, andersins was die gesigte nog rooier.

Nou is die groot vraag, as hulle so kan kolf, vasbyt en die gety keer, hoekom nie ook die meer erkende kolwers op ʼn blad wat steeds bitter min aan die boulers bied nie?

Die byna enigste positiewe aspek aan Suid-Afrika se kolfkant was die vegtersbeurte van De Kock (134 balle, 9 x 4), Philander (65 balle, 5 x 4) en Anrich Herbst, wat as naguiltjie 136 balle getrotseer het vir 18 lopies.

Aan die negatiewe kant het die swak kolfpeil van die kaptein, Faf du Plessis (8), voortgeduur asook die middelmatige vertonings van Rassie van der Dussen (24), Zubair Hamsa (10), Pieter Malan (18) en Dean Elgar (35).

Daar word in baie kringe geskimp dat Du Plessis as kaptein vervang moet word, maar deur wie?

Aiden Markram, Temba Bavuma of Elgar?

Dink maar nog ʼn slag mooi.

As reën, wat ook vir Sondag voorspel word, nie ʼn stokkie voor Engeland se opmars steek nie, kan daar groot probleme wees.

Daar is verskillende scenario’s wat hom kan afspeel.

Suid-Afrika kort nog 91 lopies om die opvolgbeurt af te weer. As Engeland vroeg toeslaan, sal hy die opvolgbeurt na alle waarskynlikheid afdwing, veral nadat die draaibouler Dom Bess 5/51 platgetrek het.

Andersins sal die Engelse weer kolf en ʼn bykans onmoontlike teiken aan Suid-Afrika stel, met net die vierde en laaste toetswedstryd wat op die Wanderers wag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ne. ·

Faf moes lankal nie meer eens in die span wees nie!!Wat vermag hy? Hy onderpresteer al vir n lang tyd! So hoekom hom aanhou speel?

Pieter Retief ·

Stel saam.
Du Plessis moet loop.
Hy is swak.
Swak wêreld beker as kaptein.
Ruggraatloos met al die KrieketSA debakels.

wil graag weet ·

Faf enRabada is te arrogant en moes lankal uitgesmyt gewees het .

christo ·

Daar is net een speler in daai span wat sy sout werd is, nl . Quinton de Kok. Die res hoort nie daar nie. Hulle is duidelik nie in dieselfde liga nie.

Pieter ·

Ek stem 100% met jou saam Christo. Captain fantastic is al baie lank verby sy raklewe – inteendeel – ek het nog nooit veel van hom gedink nie.

Carl ·

@Christo en @Pieter, hy moes gesack gewees het na die CWC, GEEN ander kaptein sou dit oorleef nie. Wat maak moutjies so spesiaal, sy vriendskap met AB, sy avg(LOL) ? Hy moes al lankal gedrop gewees het.

Karli ·

Hoe hard gaan KG nou huil nadat hy WEEREENS, vir die 4de keer so “celebrate” ? Maar CSA beloon mos swak gedrag.

Lourence ·

Ek stem Karli, ons sit met 2 ball tamperers in die span, die een is beloon deur kapteinskap, en die ander Philander is duidelik nie fiks genoeg nie, maar kry span. Saffas se vir dan “skuurpapier is anders” maar Philander het yster,met tandjies gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.