Krieket: Tafel gedek vir jong Proteas teen Indië

(Foto: Proteas Men/X)

Dis Suid-Afrika teen Indië in die een halfeindronde en Australië teen Pakistan (of Bangladesj) in die ander halfeindronde van vanjaar se Wêreldbekertoernooi vir o. 19-krieketspanne.

Suid-Afrika, Indië en Australië het reeds Vrydag seker gemaak van hul plekke in die halfeindronde, terwyl Pakistan (of Bangladesj) Saterdag in hul laaste wedstryd in die Superses-ronde hul plek kan vasknoop.

Australië het bo Suid-Afrika in Groep 1 geëindig terwyl Indië eerste in Groep 2 sal eindig.

Dit sal beteken dat Indië en Suid-Afrika sake op Willowmoore-park in Benoni sal uitspook en Australië en Pakistan/Bangladesj mekaar ook in Benoni sal pak.

Die jong Suid-Afrikaners was baie indrukwekkend in hul laaste drie wedstryde toe hulle Skotland (met 7 paaltjies), Zimbabwe (9 paaltjies) en Sri Lanka (119 lopies) geklop het.

Die jong Proteas het weliswaar teen Engeland (volgens die Duckworth-Lewis-formule) vasgeval, terwyl hulle die jong Wes-Indiërs met 31 lopies geklop het.

Die span het uitstekende kolwers in Steve Stolk, Lhaun-dré Pretorius, Dewan Marais en James Teeger terwyl Kwena Maphaka en Riley Norton as snelboulers skitterend op dreef is.

Die omstredenheid toe Teeger kort voor die toernooi van die kapteinskap onthef is omdat hy ʼn eerbewys in Oktober aan die jong Joodse soldate in Israel opgedra het wat teen Hamas veg, het die span saamgesnoer.

Maphaka (18 paaltjies) het tot dusver die meeste paaltjies in die toernooi geneem, terwyl Norton met sy 11 paaltjies ook groot indruk maak.

Tussen die kolwers is Stolk die agtste beste kolwer (214 lopies).

Pretorius (211 lopies) is negende en Marais (197 lopies) 12de op die ranglys vir die meeste lopies.

Indië het ook ’n hele paar kragtige vertonings gelewer in is steeds onoorwonne.

Hul grootste staatmakers met die kolf is Musheer Khan, Sachin Dhas en Uday Saharan.

Dhas en Saharan het Vrydag teen Nepal ʼn rekordvennootskap van 215 lopies om die vierde paaltjie aangeteken het om die Indiërs op die wenpad te hou.

Die naatbouler Saumy Panday het reeds 16 paaltjies ingeoes en Namab Tiwari is ook goed op dreef.

Indië is ongetwyfeld die mees suksesvolle span in o. 19-toernooie. Die jong Indiërs het die titel reeds vyf keer gewen en het agt keer in die eindstryd gespeel.

Voor vanjaar se toernooi het Indië 69 van sy 89 wedstryde gewen.

Suid-Afrika het in 2014 die toernooi die eerste keer in die Verenigde Arabiese Emirate gewen, toe Aiden Markram en Kagiso Rabada die blinkste sterre was.

Suid-Afrika was ook by twee ander geleenthede (2002 en 2008) in die halfeindronde, maar is hulle albei kere geklop.

Nou gaan hulle weer by die hooftafel aansit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.