Krieketspeler doen gelyktydig Covid, malaria en bosluiskoors op

Kyle Jarvis. Foto: Jekesai Njikizana/AFP.

Die 32-jarige Kyle Jarvis is een van Zimbabwe se bestendigste toetskrieketspelers en hy het reeds 46 paaltjies in 13 toetse laat kantel. Dan is hy ook ’n uitblinker vir Lancashire in Engeland se graafskap-krieketreekse.

Maar hy sal nou vir ’n hele paar maande op die kantlyn wees nadat hy vroeër vanjaar gelyktydig met Covid-19, malaria en bosluiskoors gediagnoseer is.

“Ek het pas van ’n fiksheidsessie teruggekeer en baie warm begin kry. Daarna het koors, naarheid, ’n seer lyf en kopseer hul verskyning gemaak en ek het gedink dat dit moet Covid-19 wees,” het Jarvis aan Cricinfo gesê.

Sy toestand het verswak en hy is na die Borrowdale-traumasentrum – een van die beste mediese fasiliteite in Zimbabwe – gehaas.

Daar het dokters vir hom gesê dat sy hart teen vinniger as 220 slae per minuut klop en dat hy moontlik ’n hartaanval kan kry.

Hy is vir bloedtoetse gestuur, maar volgens Jarvis wou die dokters hom aanvanklik nie van die volle diagnose vertel nie.

“Dalk wou hulle nie vir verdere paniek sorg nie en my vrou het eers later alles vir my vertel. Ek het dit eintlik heel goed hanteer omdat ek geweet het dat bosluiskoors en malaria behandelbaar is.”

Hy is huis toe gestuur, maar moes daagliks die hospitaal vir behandeling besoek. Een sessie kon tot so lank as vier uur geduur het.

Hoewel hy goed op die herstelpad is, het hy ander sportmanne en -vroue teen die gevare van Covid-19 gemaan.

“Omdat ek jonk en fiks is, het ek gedink dat selfs as ek dit sou kry dit nie so ’n ernstige saak sou wees nie. Maar dit kan met enigiemand gebeur en die moontlikheid is daar dat jy terselfdertyd ook iets anders kan opdoen.”

Jarvis het in Februarie op sosiale media gedeel dat die skade aan sy longe genadiglik nie te ernstig is nie en dat hy binne drie maande weer sal kan oefen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.