Krieketwêreldbeker net 80 dae weg

 (Foto: Twitter.)

Daar wag nie veel internasionale krieket op die Proteas voordat die span in sy eerste Wêreldbeker-wedstryd teen Sri Lank op 7 Oktober speel nie.

Die Suid-Afrikaners speel in September vyf eendagkrieketwedstryde teen die besoekende Australiërs, maar hulle sal omtrent direk ná afloop van die reeks hul tasse vir die internasionale skouspel in Indië moet pak.

Om dinge vinnig in perspektief te plaas: Die Wêreldbeker-toernooi begin oor slegs 80 dae vir Temba Bavuma-hulle.

Gelukkig kry van die Protea-sterre ook kans om aan hul vaardighede by die Major League Cricket-toernooi (MLC) in die VSA te skaaf.

Rilee Rossouw, Dewald Brevis, Kagiso Rabada, Quinton de Kock, Heinrich Klaasen, Wayne Parnell, David Miller, Faf du Plessis, Gerald Coetzee, Marco Jansen en Anrich Nortjé speel vir spanne soos die Los Angeles Knight Riders, die Seattle Orcas en die San Francisco Unicorns.

Ja, dit is weliswaar T20-krieket, maar die betrokke spelers kry darem ʼn waardevolle geleentheid om in ʼn wedstrydsituasie te kolf en te boul.

Kagiso Rabada. (Foto: Aamir Qureshi/AFP.)

Rabada en Coetzee tel tans onder die voorste boulers, terwyl Klaasen en Miller onlangs ʼn paar vinnige vyftigtalle vir hul spanne gemoker het.

Du Plessis (22 lopies teen ʼn gemiddeld van 7,33) en De Kock (17 lopies teen ʼn gemiddeld van 8,50) het nog nie behoorlik vlam gevat met die wilgerlat nie, terwyl Nortjé (een paaltjie teen ʼn gemiddeld van 74) ook nog nie sy gebruiklike stempel op ʼn wedstryd kon afdruk nie.

Afrigter Rob Walter het vroeër gesê dat daar steeds hard agter die skerms gewerk word om die Proteas wedstrydgereed vir die internasionale uitkloptoernooi te kry.

Terselfdertyd het die Indiese Premierliga gesorg dat oorsese spelers meer vertroud met Indiese toestande geword het en Miller het al saam met De Kock en Nortjé vir barshouvertonings in die verlede gesorg.

In die jongste toernooi het die 39-jarige Du Plessis egter die kollig gesteel.

Faf du Plessis. (Foto: Twitter/IPL)

Hy het die tweede meeste lopies (730 in 14 kolfbeurte, teenoor Shubman Gill se 890 in 17 probeerslae) gemoker, terwyl hy die bal 36 keer oor die grenstou laat seil het.

Dit is die meeste sesse van al die kolwers.

Dan het hy saam met Virat Kohli 939 lopies aangeteken; ʼn prestasie wat slegs deur AB de Villiers en Kohli in 2016 geëwenaar is.

Volgens Dinesh Karthik moet die Protea-bestuur nie vir die volgende T20-Wêreldbeker wag om Du Plessis weer deel van die nasionale opset te maak nie – die komende Wêreldbeker in Indië (oor 50 boulbeurte) bied immers ʼn gulde geleentheid.

“Faf se uitstekende spelpeil het my glad nie verbaas nie. Hy is ʼn ongelooflike krieketspeler en vir die laaste vyf jaar is hy die bestendigheid vanself in die IPL. Hy was trouens vanjaar selfs beter as in die vorige toernooie,” het die Indiese speler in ʼn episode van The ICC Review gesê.

“Ek dink Suid-Afrika sal die pot mis sit as hulle hom nie nou saam na die Wêreldbeker neem nie. Ek dink hy is gereed. Hy is iemand wat ʼn verskil kan maak – as ʼn kolwer en as ʼn leier.”

Proteas se Wêreldbeker-bepalings:

7 Oktober 2023: Suid-Afrika teen Sri Lanka

13 Oktober 2023: Suid-Afrika teen Australië

17 Oktober 2023: Suid-Afrika teen Nederland

21 Oktober 2023: Suid-Afrika teen Engeland

24 Oktober 2023: Suid-Afrika teen Bangladesj

27 Oktober 2023: Suid-Afrika teen Pakistan

1 November 2023: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland

5 November 2023: Suid-Afrika teen Indië

10 November 2023: Suid-Afrika teen Afghanistan

IKR se eendagkrieketranglys:

  1. Australië: 118 punte
  2. Pakistan: 116 punte
  3. Indië: 115 punte
  4. Nieu-Seeland: 104 punte
  5. Engeland: 101 punte
  6. Suid-Afrika: 101 punte
  7. Bangladesj: 93 punte
  8. Afghanistan: 91 punte
  9. Sri Lanka: 87 punte
  10. Wes-Indiese Eilande: 66 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.