KSA bevestig toetsreeks teen Swartpette

Die Proteas toer weer in 2024 na Nieu-Seeland. (Foto: Phill Magakoe/AFP.)

Met Protea-rooibalkrieketwedstryde wat deesdae so skaars soos hoendertande is, is daar darem ʼn kort toetsreeks teen Nieu-Seeland om na uit te sien.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het vandeesweek bevestig dat die Suid-Afrikaners vroeg in 2024 twee toetse teen die Kiwi’s weg van die huis sal speel.

Die Proteas beklee tans die vierde plek op die Internasionale Krieketraad (IKR) se toetsranglys en ʼn paar spelers het al oor die min inskrywings op die span se rooibalkrieketkalender gekla.

“Die komende toer na Nieu-Seeland is ʼn uitstekende geleentheid vir die spanlede om hulself in toestande weg van die huis te toets in die nuwe ronde van die Wêreldtoetskampioenskap,” het Pholetsi Moseki, KSA se uitvoerende hoof, gesê.

Suid-Afrika het goed in sy vorige wegreeks teen die Swartpette terugbaklei nadat Matt Henry amok in die eerste toets op die Hagley-stadion in Christchurch gemaak het.

Die Kiwi-snelbouler het nege paaltjies in die wedstryd geneem en die Proteas is vir 95 en 111 in hul twee kolfbeurte uitgeboender.

Sarel Erwee en Kyle Verreynne se honderdtalle in die daaropvolgende wedstryde het egter gesorg dat die Proteas die tweede toets met 198 lopies kon wen om ʼn gelykopreeksuitslag af te dwing.

  • Protea-toer na Nieu-Seeland:

4 tot 8 Februarie 2024: Eerste toets op die Bay-ovaal

13 tot 17 Februarie 2024: Tweede toets op Seddon-park.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.