KSA is op rand van afgrond sonder valskerm

Minister Nathi Mthethwa. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

Dit is nie slegs op die krieketveld waar die Proteas die wind van voor kry nie; dinge lyk ook meer beroerd as ooit tevore op die administratiewe front.

Nadat die minister van sport, Nathi Mthethwa, al vir ’n geruime tyd dreig dat hy sal inmeng indien Krieket Suid-Afrika (KSA) nie sy huis in orde kry nie, lyk dit asof die skrif nou aan die muur is vir die beleërde nasionale krieketbeheerliggaam.

Mthetwa het Sondagoggend op sosiale media sy teleurstelling uitgespreek omdat KSA se lederaad nie die wysiging aan die beheerliggaam se grondwet aanvaar het nie, ten spyte van hul aanvanklike voorneme om dit wel te doen.

Hierdie wysiging behels ’n ooreenkoms tussen die lederaadslede en die tussentydse raad, wat deur Mthetwa aangestel is om KSA uit sy administratiewe verknorsing te probeer red. Daar was onder meer gepoog dat krieket se raadslede ’n meer onafhanklike baadjie in Suid-Afrika aantrek.

Maar tydens gister se vergadering het net ses van Suid-Afrika se 14 krieketunie-presidente tot die beoogde wysiging ingestem. Terselfdertyd was vyf presidente daarteen gekant, terwyl drie buite stemming gebly het.

Met 75% stemme wat nodig is om sake te verander, lyk dit asof die minister en die tussentydse raad se strewe om ’n onafhanklike meerderheidsraad vir die toekoms in plek te kry, misluk het.

O ja, die uniepresidente se mag in Suid-Afrikaanse krieket sou aansienklik gekrimp het indien hulle ja vir die grondwetwysiging gestem het.

“Hierdie wending, saam met verskeie ander verspeelde kanse, laat die minister met geen ander uitweg as om sy regte ingevolge die Wet op Sport en Ontspanning uit te oefen nie,” het Mthetwa se kantoor in ’n verklaring gesê.

Die minister se optrede teen KSA kan beteken dat die nasionale krieketbeheerliggaam se gesag nie meer deur die departement van sport erken word nie. Hy kan ook befondsing weerhou.

Die Internasionale Krieketraad (IKR) handhaaf ’n streng beleid teen regeringsinmenging en Suid-Afrika kan uit wêreldkrieket geskors word wanneer Mthethwa inmeng.

Krieket Suid-Afrika is tans vinnig op pad na die rand van die afgrond en dit is dalk al te laat om vir ’n valskerm te soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Sambok ·

Dit gebeur in al ons sport -tipies kommunisme-weet niks van sport nie maar wil inmeng-sokker is lankal onderdeur-tyd om te privatiseer

Dirk Mostert ·

Sport agter die Ystergordyn het gefloreer (Rusland en Oos-Duitsland by die Olimpiese Spele). Dis nie kommunisme wat ons sport afbreek nie, maar rassisme en onbevoegde ministers/administrateurs.

Wielspore ·

Krieket is lank al nie meer ‘n sport, dit is ‘n politieke blyspel ten koste van SA.

Vrijburger ·

Schadenfreude!
En terwyl die Internasionale Krieketraad betrek word – sommer ‘n goeie tyd om die rasisme van kwotas in krieket aan die groot klok te hang.

ouMo ·

Ha haha, reeds agv inmenging dat dit lyk soos dit lyk. Laat dit oor die afgrond val om nooit weer gesien te word nie. Buig daai knieë!

Objektief ·

Miskien moet hulle”onafhanklik” definieer. Heel moontlik net nog n poging van die ANC om beheer uit te oefen onder n dekmantel. Beheer word weggeneem van die unies en aan ANC verteenwoordigers gegee.

Casper ·

Mthethwa meng in vandat hy die minister geword het.Daar moet weer gekyk word na die spelers wat gekies word.In die laaste T 20 wedstryd was ons goed opdreef toe kom die derde laaste boulbeurt.Twee fout balle beteken 2 vry houe wat 10 lopies met die kolf aangeteken is twee ekstra lopies en twee ekstra balle.Morris sal nie gekies word nie en ek weet hoekom nie.Maar verban ons eerder en spaar one as kykers verdere vernedering..

Jan ·

Die minister speel nou die slagoffer, maar dit is juis a.g.v. politieke inmenging dat KSA in hierdie powere toestand is. Hou jou useless neus totaal uit krieket en dit sal regkom.

Anoniem ·

Valskerms is nie meer nodig nie. Als lê nou plat op die grond in hierdie land.

david ·

Ek hoop die IKR skop SA uit..in terme van hulle eie regulasies..oor regerings inmenging in Krieket.
Die rasssitiese kwota stelsel kan ook kan ook bygevoeg word, want die IKR , soos meeste ander internasionale liggame het streng regulasies oor Rassisme.

Maar, die IKR gaan NIKS doen as ons, die krieket entoesiaste en spelers niks van ons kant af doen nie.
Mens kan op skolevlak begin—dit moet egter deur die OUERS aangedryf word.– weier eenvoudig om jou seun beskikbaar vir bv provinsiale spanne te stel.

Vra jouself die vraag af of die vernedering van die Kwota stelsel tot jou seun se welsyn bydra.
Die skole kan nog steeds teen mekaar speel soos in die verlede, ongeag of daar spelers van kleur ingesluit is….
maar NIEMAND KAN JOU DWING om vir enige span te speel waar kwotas van toepassing is.
Dis lankal tyd om rug styf te maak

Adam Adriaan ·

Dit is nie net krieket wat oor die afgrond is nie, maar alles. Die ekonomie, hospitale, munisipaliteite die polisie, weermag, eskom, SAL, Landbank, Alles ja maar alles. Die staat is bankrot.

Anoniem ·

Die IKR is net so pateties, hulle weet presies wat gebeur en dat alle SA spanne op velkleur kwotas gekies moet word. Hulle moes SA al lankal uit wêreld krieket geskop het as hulle enigsins geloofwaardig wil wees. Die IKR is seker reeds deur BLM gekaap.

Andrew ·

Tyd dat die kwoteas geskors word, IRK moes lankal hulle eie wette toepas. Kwotas is politiese inmenging al klaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.