KSA ‘sien uit’ om saam met Boucher te werk

Mark Boucher. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het in ’n kort verklaring op sosiale media sy steun aan Mark Boucher toegesê.

Die nasionale krieketbeheerliggaam het Dinsdag aangekondig dat hy sy dissiplinêre klagte – insluitend klagte van rassisme – teen die 45-jarige afrigter laat vaar het.

“Ons sien daarna uit om saam met Mark te werk en ons hoop dat alle Suid-Afrikaners agter die span sal staan. Ons weet dat hulle oor die vermoë beskik om die toppunt van prestasie in al die formate van die spel te bereik,” het Lawson Naidoo, KSA-raadvoorsitter, gesê.

KSA het terselfdertyd bevestig dat alle klagte teen Boucher onvoorwaardelik teruggetrek is en dat  die oudpaaltjiewagter vrygespreek is van die aanklagte teen hom.

“KSA is spyt dat ’n klagtewolk oor sy kop gehang het, maar ook bly dat die saak nou opgelos is.”

Boucher het vroeër gesê dat die ongegronde bewerings van rassisme vir aansienlike hartseer en angs gesorg het.

“Die afgelope paar maande was baie moeilik – nie net vir myself nie, maar ook vir my gesin. Ek is dankbaar dat die proses uiteindelik tot ’n einde gekom het en dat KSA aanvaar het dat die klagte teen my onvolhoubaar is.”

Hoewel hy aangedui het dat hy geen verdere kommentaar oor die aangeleentheid gaan lewer nie, sien hy nogtans daarna uit om op sy werk as nasionale afrigter te konsentreer en die Proteas tot groter hoogtes te neem.

KSA het intussen ook aangedui dat Boucher in sy pos tot ná die 2023-Wêreldbekertoernooi sal aanbly.

“Hy het die ondersteuning van KSA en ons is vol vertroue dat die Proteas sal voortgaan om ’n kultuur van wedersydse respek en inklusiwiteit te bou. Ons sien ook daarna uit dat Boucher die span na hul eerste Wêreldtoetskampioenskap-eindstryd sal lei.”

As afrigter speel Boucher ’n sleutelrol in die Proteas se onlangse toetskrieketsukses. Dean Elgar en kie spog met reeksoorwinnings teen Indië, die Wes-Indiese Eilande en Bangladesj, terwyl hulle gelykop teen Nieu-Seeland weg van die huis gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MJ ·

Skynheilige klomp by KSA.
Julle het so baie Protea ondersteuners vervreem van die sport.
Mark Boucher is ‘n man duisend!

Kobus ·

Mark Boucher is ‘n beter mens as ek. Ek sou hulle met alles wat ek het aangevat het. Stem saam met MJ, skeinheilig. Dis van om naar te word

Dup ·

Die vraag is: sien Boucher daarna uit om saam met KSA te werk? Ek dink nie so nie…..

Thelsa ·

Hoe pateties is die werkgewer dan nie. Eers vind hulle genoeg gronde om ‘n Dissiplinêre verhoor daar te stel. Toe dit ‘backfire’ nou wil hulle graag saam met hom werk. Dit gaan ‘n moeilike werksverhouding wees. Ek dink Boucher het hulle aan die kort hare beet.

Andrew ·

Ek ondersteun ongelukkig nie knie buigers van valse gode nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.