KSA-werknemers toets positief vir Covid-19

Dr. Jacques Faul. Argieffoto.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het bekend gemaak dat sewe van sy werknemers positief vir Covid-19 getoets is.

Volgens dr. Jacques Faul, die tydelike uitvoerende hoof, is meer as 100 toetse al gedoen.

“Daar sou ongetwyfeld positiewe uitslae uit meer as 100 toetse gewees het; ek dink sewe is eintlik betreklik min teenoor die getal toetse,” het dr. Faul gesê.

Hy het bygevoeg dat KSA se etiese regulasies hom nie toelaat om die identiteit van die mense bekend te maak nie.

Die nasionale krieketbeheerliggaam sou die naweek saam met ander belanghebbendes die 3TeamCricket-inisiatief op SuperSportpark van stapel gestuur het.

Sterre soos AB de Villiers, Quinton de Kock en Kagiso Rabada sou Saterdag agter geslote deure in Centurion weer hul kriekettoerusting vir dié splinternuwe formaat nadergesleep het.

Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het egter ’n stokkie hiervoor gesteek.

Volgens die minister is KSA se versoek om die wedstryd aan te bied nog nie goedgekeur nie.

“Daar is ’n klomp dinge wat eers aandag moet kry en ons is in volgehoue gesprekke met die departement van gesondheid. Mense word vir Covid-19 getoets en ons wil daardie detail hê om te sien of enige spelers positief getoets is,” het Mthethwa tydens ’n parlementêre sessie gesê.

KSA het Saterdag ’n verklaring uitgereik en gesê dat meer voorbereidingswerk – waaronder die nodige toestemming – nodig is voordat die wedstryd aangebied kan word. ’n Nuwe datum sal binnekort bekend gemaak word.

Op die internasionale verhoog kan Pakistan se toer na Engeland ook in gedrang wees, nadat drie van hul spelers positief getoets is.

Volgens die Pakistanse Krieketraad is Harris Rauf, Haider Ali en Shadab Khan positief vir die virus getoets.

Pakistan toer binnekort na Engeland vir ’n toetsreeks en spelers soos Mohammad Amir en Harris Sohail het reeds aangedui dat hulle nie die kans wil waag nie.

Shahid Afridi. Foto: Twitter via die PSL.

Boonop het die legendariese Shahid Afridi ook aangedui dat hy positief getoets is. Afridi het as tiener die rekord gehou vir die vinnigste honderdtal in internasionale eendagkrieket toe hy in 1996 ’n honderdtal van 37 balle teen Kenia geslaan het.

“Ek voel sedert Donderdag al sleg en my hele lyf is seer. Ongelukkig is ek Covid-19-positief en het almal se gebede nodig,” het Afridi op Twitter geskryf.

Volgens Misbah-ul-Haq, Pakistan se afrigter, het Afridi moontlik die virus opgedoen terwyl hy liefdadigheidswerk in van die land se armste buurte gedoen het.

Die voormalige Bangladesj-kaptein, Mashrafe Mortaza, is ook positief getoets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.