Kuitspierbesering boender Lyon uit reeks om die As

Australië se Nathan Lyon. (Foto: Ishara S. Kodikara/AFP)

Australië sal die huidige reeks om die As sonder krieketster Nathan Lyon moet klaar maak nadat ’n kuitspierbesering sy verdere deelname aan dié toernooi gekelder het.

Die draaier Todd Murphy sal Lyon vir Donderdag se derde toets op Headingley vervang, het afrigter Andrew McDonald Maandag gesê.

Krieketspanne van Australië en Engeland neem aan dié reeks deel.

Volgens McDonald het Lyon “’n beduidende skeur aan sy kuitspier” opgedoen tydens dag twee van ’n moeilike toetswedstryd op Lord’s, wat Australië met 43 lopies gewen het. Die Aussies is nou 2-0 voor in die reeks van vyf wedstryde.

“In dié stadium lyk dit nie baie goed nie. Dit is ʼn beduidende skeur aan die kuitspier en sal die einde van sy deelname aan die reeks beteken,” het Murphy gesê.

“Ons hou daarvan om ’n draaier in ons aanval te hê; dit bring ʼn ander balans.”

McDonald sê die span moes hul spel ietwat aanpas nadat Lyon Sondag beseer is en gee toe dat dit met tye waarskynlik ʼn bietjie “chaoties op die veld gelyk het”.

Lyon het vroeër aan die webwerf Cricket.com.au gesê hy weet nog nie of hy vir die res van die reeks in Engeland sal bly, of huis toe sal vlieg vir rehabilitasie nie.

“Ek was baie gelukkig wat beserings betref. Sedert Augustus 2011 het ons 126 toetswedstryde gehad en ek het 122 van hulle gespeel,” het die 35-jarige Lyon gesê.

“Hierdie is net ’n klein spoedhobbel in die pad. Dit is nie loopbaanbepalend nie. Ek is hongerder as ooit om weer daar uit te kom.”

Die gesoute Lyon sê hy sal beskikbaar wees om die 22-jarige Murphy by te staan soos nodig.

“Ek het in die laaste sessie met Todd oor ons draaiboulwerk gesels. Ek het baie vertroue in hom. Hy is ʼn wonderlike jong man en is bereid om te leer.

“Ek het vir hom gesê my foon is altyd aan, dit maak nie saak of ek saam met hom in die aantrekkamer is, of by my huis in die bed sit nie.”

Hierdie tyd verlede jaar was Murphy nog maar onbekend. Die prentjie het egter gou verander ná sy merkwaardige debuut teen Indië in Nagpur in Februarie, waar hy ʼn telling van sewe paaltjies in die eerste beurt behaal het terwyl hy saam met Lyon geboul het.

Krieket Australië het intussen ook aangekondig dat die reserwekolwer Matthew Renshaw die groep verlaat, maar op bystand in Brittanje sal bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.