Kyk: ’n Driekuns en toe ’n fees van sesse

Kieron Pollard vier sy sesse. Foto: Twitter.

As iemand ooit na ’n verklaring vir die uitdrukking “’n bittersoet wedstryd” gesoek het, hoef hulle net vir Sri Lanka se Akila Dananjaya te vra.

Die 27-jarige draaier het so pas van agtereenvolgende aflewerings van Wes-Indië se Evin Lewis, Chris Gayle en Nicholas Pooran ontslae geraak om ’n driekuns te vier.

Die vreugdevure was egter van korte duur.

In sy volgende boulbeurt het die T20-ster, Kieron Pollard, ’n teenaanval van stapel gestuur wat vir niks skrik nie.

Die sterk Windie het ses sesse van die stomme Dananjaya se boulwerk geslaan om saam met Suid-Afrika se Herschelle Gibbs en Indië se Yuvraj Singh een van die spelers te word om 36 lopies van ’n enkele boulbeurt te moker.

Hy is uiteindelik vir 38 lopies teen ’n treftempo van 345,45 uitgehaal, maar hy het meer as genoeg gedoen om te verseker dat Wes-Indië die kragmeting met vier paaltjies gewen het.

En Dananjaya?

Hy moes tevrede wees met ’n boulontleding van 3/62 in sy vier boulbeurte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.