Maak die toetsspan weer die prioriteit

Faf du Plessis. Foto: Cricinfo.

Oor 16 dae word die eerste aflewering in die toetsreeks tussen die Proteas en Engeland op SuperSportpark in Centurion afgestuur.

En hoewel daar baie dinge lángs die veld in Suid-Afrikaanse krieket gebeur het – soos onder meer die skorsing van Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof en die aanstelling van ’n nuwe tydelike uitvoerende hoof – sê die Protea-toetskaptein, Faf du Plessis, dat dit beslis tyd geword om die aandag weer op die toetsspan te vestig.

Goeie nuus is dat Graeme Smith so te sê gereed is om KSA se eerste direkteur van krieket te word. Soos wat dr. Jacques Faul (KSA se tydelike uitvoerende hoof) die afgelope naweek gesê het: Smith se aanstelling kan darem as ’n tree in die regte rigting gesien word.

Maar een Smith-swaeltjie maak nie noodwendig ’n KSA-somer nie en die Proteas is nog sonder ’n keurpaneel én ’n permanente afrigter.

Gary Kirsten. Foto: Ayanda Ndamane African News Agency (ANA).

Enoch Nkwe, wat die Proteas op hul rampspoedige toer na Indië vergesel het, sal in sy rol as tydelike afrigter voortgaan.

Gary Kirsten kan egter as sy mentor optree.

Met die nuus dat Kirsten moontlik as Nkwe se mentor aangestel word, het verskeie oud-Proteas met sarkasme op sosiale media gereageer.

“As die berigte waar is, gaan die afrigter iemand nodig hê om hom touwys te maak. Waar gaan alles eindig? Daar is beslis interessante tye wat op ons wag,” het die voormalige Protea-kolwer, Ashwell Prince, op Twitter geskryf.

Hoewel Kirsten nie amptelik deur KSA genader is nie, sal hy belangstel om deel van die regrukproses te wees.

“Ek sal altyd bereid wees om van hulp te wees waar mense dink ek waarde kan toevoeg,” het hy aan ESPN Cricinfo gesê.

Kirsten was aan die stuur van die Protea-skip toe die span die beste toetsland ter wêreld was.

Intussen het Du Plessis gepleit dat die toetsspan weer die hoofprioriteit word.

“Nou moet ons vorentoe beweeg. Ek glo daarin dat die tyd aangebreek het om al die onsin wat agter die skerms plaasgevind het, agter te laat en vorentoe te kyk. Daar moet toegesien word dat die spelers weer op krieket fokus,” het Du Plessis gesê.

“Die spelers het absoluut niks uit te waai met dít wat langs die veld gebeur het nie. As ek as buffer tussen die spelers en die KSA-verwikkelinge moet optree, dan is ek heeltemal oukei daarmee. Ons moet nou weer op die belangrike dinge fokus: En dit is die komende toetsreeks teen Engeland.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Raka ·

Ek stem saam met Faf. Ek dink die 1ste ding wat hulle moet doen is om hom, die einste Faf weg te jaag.

koos ·

KSA gaan leer by SARugby asseblief. Rassie was aangetel nadat rugby op ‘n gly pad beland het, en hy het met sy leiding ‘n wen span gekweek.
Stel Gary aan as hoof afrigter en laat hom toe om dieselfde te doen.

Henk ·

Du plessis moet dalk die kommunikasiebeamte van die proteas word want hy praat te verl en doen te min op die krieketveld

LOL ·

@Henk. Korrek, of ‘n politikus wat hou van ‘n mikrofoon. Hy kan lank gorrel om niks te se. Maar hy het genoeg tyd vir tatoeering terwyl hy in die nette moet wees.

Koos B ·

Ek wil nog sien of die spulletjie gaan werk.Die eerste sukses wat hulle behaal dan is dit terug politiek toe.Die manne wat hul nou wil insit is verseker reg vir die werk hulle is net ‘n bietjie bleek.Gelukkig lyk dit op die stadium of Rugby darem die politiek oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.