Marsh kolf soos ʼn masjien teen Bangladesj

Mitchell Marsh het ’n onoorwonne beurt van 177 lopies teen Bangladesj gespeel. (Foto: Punit Paranjpe/AFP)

Australië en ʼn omgesukkelde Mitchell Marsh het ʼn sterk waarskuwing voor Donderdag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Suid-Afrika uitgestuur: Moenie met ons mors nie.

Die Aussies het – met Marsh voor in die koor – vir Bangladesj met agt paaltjies in Pune oordonder en sodoende ʼn lopiejaagtog van 307 lopies na kinderspeletjies laat lyk.

Marsh het 177 onoorwonne lopies van slegs 132 aflewerings gemoker en sy beurt het nege groot sesse ingesluit.

Dit was sy tweede honderdtal van die Wêreldbeker-toernooi in Indië en die hoogste telling van sy loopbaan.

Volgens kaptein Pat Cummins is Australië besig om sy beste krieket in aanloop tot die uitspeelwedstryde te speel.

Die jongste oorwinning is die Aussies se sewende sege op ʼn streep en oudergewoonte is hulle weer een van die gunstelingspanne om met die uiteindelike louere weg te stap.

“Ons het in ʼn paar van die wedstryde glad nie op alle suiers gevuur nie, maar ons kon steeds as oorwinnaars van die veld stap. Om tellings van 300 lopies suksesvol te jaag is iets waarmee ons vantevore gesukkel het en dit voel asof alles op die regte tyd in plek val,” het Cummins gesê.

Hy het ook Marsh se lof besing.

“Mitchell was uitstekend. Wat my veral beïndruk het, is die wyse waarop hy sy kolfbeurt afgerond het – hy het glad nie sy voet van die versnelpedaal gehaal nie. Hy het teen ʼn volhoubare tempo gekolf en ander spanne moet maar skrikkerig vir hom wees.”

  • Opsomming van die telkaart:

Bangladesj 306/8 in 50 boulbeurte: Towhid Hridoy 74, Najmul Hossain Shanto 45 en Adam Zampa 2/32.

Australië 307/2 in 44,4 boulbeurte: Mitchell Marsh 177*, Steven Smith 63* en Taskin Ahmed 1/61.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.