Mignon wil op gesin, T20-krieket fokus

Mignon du Preez. Foto: Sanka Vidanagama/AFP.

Mignon du Preez se tweede laaste eendagkrieket-kolfbeurt is waarskynlik een wat sy nog vir baie jare sal onthou.

Haar onoorwonne 52 lopies van 63 aflewerings het gesorg dat die Protea-vrouekrieketspan Indië met drie paaltjies in Christchurch geklop het.  Hierdie oorwinning – van die laaste bal af nogal – het beteken dat die Suid-Afrikaners se momentumvlam darem nog helder vir die Wêreldbeker-halfeindstryd teen Engeland gebrand het.

Maar vandag, 154 eendagwedstryde nadat sy haar buiging in 2007 teen Pakistan op SuperSportpark gemaak het, het die 32-jarige speler in ’n verklaring gesê dat sy klaar is met toets- en vyftigboulbeurtkrieket.

Sy is egter nog beskikbaar om die Proteas in T20-wedstryde te verteenwoordig.

“Ek was baie bevoorreg om die Proteas in vier Wêreldbeker-toernooie te verteenwoordig en dit is ongetwyfeld van my gunsteling-herinneringe. Ek wil egter ook eendag met ’n gesin van my eie begin en die tyd saam met hulle prioritiseer.”

Sy was ook ’n goeie leier – die Suid-Afrikaners het 24 van die 46 wedstryde onder haar kapteinskap gewen.

 Foto: Twitter.

“As jong meisie was dit my droom om eendag Suid-Afrika op die krieketveld te verteenwoordig en die kapteinskap was ongetwyfeld die kersie op die koek gewees,” het sy in ’n vorige onderhoud met Maroela Media gesê.

Sy weet egter dat die tyd reg is om haar uittrede uit die langer weergawes van die spel aan te kondig: Suid-Afrikaanse vrouekrieket is gesond en jong opwindende spelers kan nou die sport na nuwe hoogtes neem.

Een van Du Preez se sterk punte is dat sy in druksituasies gedy; ’n vreemde konsep vir die meeste krieketliefhebbers – almal frons immers as hulle die woorde “druk” en “Protea” in dieselfde sin raaklees.

Sy het destyds ’n vyftigtal in daardie debuutwedstryd teen Pakistan geslaan, terwyl die Proteas onder haar leierskap hul eerste reeksseges in Indië en Bangladesj gesmaak het.

“Ek beskou my kriekettalent as ’n gawe van Bo. In moeilike situasies onthou ek altyd dat my hulp van God kom en dat ek deur Hom tot alles in staat is. Dan dink ek ook dat die vermoë om druksituasies te hanteer mettertyd aangeleer kan word.”

Dankie, Mignon!

  • Du Preez se loopbaanstatistieke:

Toetskrieket: 119 lopies teen ’n gemiddeld van 59,50, met ’n hoogste telling van 102.

Eendagwedstryde: 3 760 lopies teen ’n gemiddeld van 32,98, met ’n hoogste telling van 116*.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Steyn ·

Ja wat, volg maar in die mans se voetspore, raak groter as die spel en maak dan maar weer ‘n terugkeer wat nie help nie, maar eerder om n jong belownde speler sy/haar plek uit te hou!

Hennie Biebouw ·

“Haar onoorwonne 52 lopies van 63 aflewerings het gesorg dat die Protea-vrouekrieketspan Indië met drie paaltjies in Christchurch geklop het. “…Regtig? Sy het skamele 161 lopies in 8 beurte aangeteken deur die toernooi met één ou swaeltjie wat beslis nie die somer gebring het nie…

Intussen gaan Laura Wolfaardt se 433 lopies in die toernooi , én die 80 van 79 balle in die wedstryd teen Indië ongesiens verby…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.