Miller en sy Titans wen IPL-titel

David Miller spog met die silwerware. Foto: Twitter.

Die Gujarat Titans is die wenners van die Indiese Premierliga nadat hulle vir die Rajasthan Royals in dié spogtoernooi se eindstryd met sewe paaltjies geklop het.

Suid-Afrika se David Miller was weer eens een van die Titans se sterre: Sy onoorwonne beurt van 32 lopies (vanaf slegs 19 aflewerings) het vir die nodige kolfmomentum teen die einde van die beurt gesorg.

Die sterk linkshandige kolwer het 481 lopies teen ’n gemiddeld van 68,71 en ’n treftempo van 142,72 in die reeks geslaan.

Sy drie sesse in die laaste boulbeurt van ’n vorige wedstryd – toevallig ook teen die Royals – het sy waarde as kolwer onderstreep.

Ja, David Miller het al vantevore in die IPL met die wilgerlat gesukkel, maar vanjaar het hy gewys dat hy een van wêreldkrieket se gevaarlikste T20-spelers is.

Hy het nie vir die snelboulers teruggestaan nie, terwyl hy ook vreesloos en met berekende aggressie teen die draaiers gekolf het. Terselfdertyd het hy sy kolfbeurte met die presisie van ’n meesterargitek beplan – niks was oorhaastig aangepak nie.

“Ek weet presies wat my rol in die span is, ek kry gereeld speelkans en ek geniet my spanmaats se ondersteuning,” het Miller ’n rukkie terug in ’n onderhoud met Star Sports gesê.

Miller was vanjaar in ’n verwoestende bui. Foto: Twitter.

“Terselfdertyd speel ek nou al vir ’n hele paar jaar en ek verstaan my spel nou baie beter as in die begin. In druksituasies waai die wedstrydplan dikwels by die stadionvenster uit, maar ek doen my bes om die oorspronklike plan te volg.”

Volgens Hardik Pandya (Titans-kaptein) het die span nog altyd geweet dat Miller ’n spesiale speler is.

“Dit is belangrik om ’n speler soos David te ondersteun en vir hom ’n duidelike rol in die span te gee. Selfs al werk dinge nie altyd uit nie, is dit ook oukei – dit is immers net ’n krieketwedstryd.”

Nou moet die Proteas ook net vir Miller op dieselfde manier hanteer – hy beskik beslis oor die vermoë om wedstryde vir sy span te wen.

  • Opsomming van telkaart:

Rajasthan Royals 130/9 in 20 boulbeurte: Jos Buttler 39, Yashasvi Jaiswal 22 en Hardik Pandya 3/17.

Gujarat Titans 133/3 in 18,1 boulbeurte: Shubman Gill 45, Hardik Pandya 34 en David Miller 32.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.