Morris sukkel in VAE

Chris Morris sukkel sedert die IPL hervat is. Foto: Twitter .

Die Rajasthan Royals het vroeër amper R32 miljoen uitgehaal om die dienste van Chris Morris vir vanjaar se Indiese Premierliga te bekom. Sodoende het die Suid-Afrikaner die duurste speler in IPL-geskiedenis geword.

Dinge het aanvanklik goed in Indië gelyk, maar sedert die toernooi in die Verenigde Arabiese Emirate hervat is, sukkel die veelsydige speler om sy spelpeil van ouds te herwin.

Hy het in drie wedstryde 11 boulbeurte afgestuur sonder om ’n enkele paaltjie te neem terwyl hy 124 lopies afgestaan het. Dan het hy nog net 19 lopies met die kolf aangeteken.

Hy is ook nie deel van die Proteas se planne vir die komende T20-Wêreldbeker nie. Foto: Paul Ellis/AFP.

In die geheel lyk dinge seker nie te sleg nie. In al tien IPL-wedstryde het hy 14 paaltjies teen ’n gemiddeld van 24,85 geneem, terwyl hy sy 67 lopies teen ’n treftempo van amper 143 geslaan het.

Maar sy huidige spelpeil moet die Rajasthan-base ongetwyfeld laat frons. Hy het gisteraand weer eens gesukkel toe die Royal Challangers Bangalore-kolwers 50 lopies van sy vier boulbeurte gemoker het.

Veral Glenn Maxwell het sy boulwerk geniet en 22 lopies (vier grenshoue, waaronder ’n ses) van sy laaste boulbeurt gemoker.

Die 34-jarige Suid-Afrikaner het ook net 14 lopies aangeteken voordat hy skitterend deur Devdutt Padikkal op die grens uitgevang is.

Bangalore het die wedstryd op ’n drafstap met sewe paaltjies gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris dupreez ·

Hy is vir my n baie opwindende speler. Ek is seker hy sal gou sy top spelpyl weer bereik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.