’n Geval van draaier-déjà vu

Keshav Maharaj. Foto: Marco Longari/AFP.

Presies ’n week nadat Keshav Maharaj en Simon Harmer vir Bangladesj in Durban deurmekaar gedraai het, het hulle met ’n soortgelyke vertoning op St. George-park vorendag gekom.

Die Proteas se doringdraaiers het weer eens al tien Tier-paaltjies laat spat om toe te sien dat Suid-Afrika die toets met 332 lopies én die reeks met 2 – 0 gewen het.

Maharaj is welverdiend as die speler van die wedstryd, sowel as die reeks, aangewys. Hy het vandag met ’n boulontleding van 7/40 gespog nadat hy vroeër in die wedstryd ook 84 lopies geslaan het.

Volgens die draaier het Dean Elgar (kaptein) en Mark Boucher (afrigter) hom ná die eerste beurt van die Durban-toets – waarin hy nie ’n enkele paaltjie kon neem nie – nadergetrek.

“Hulle het toe vir my gesê dat ek op die regte koers is en dat die paaltjies in die tweede beurt sal kom. Ek het sedertdien nog nie weer teruggekyk nie,” het Maharaj gesê.

Simon Harmer (Foto: Marco Longari/AFP)

Elgar was ook in sy noppies met Harmer se vertoning.

Die Titans-speler se laaste toets vir die Proteas was in 2015 teen Indië. Sedertdien het hy egter die paaltjies vir Essex in Engeland laat kantel en hy is onlangs deur die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack as een van die beste krieketspelers van die jaar aangewys.

“Simon het homself uitstekend van sy taak gekwyt en hy het gewys dat hy ’n draaier van wêreldgehalte is. Ek weet dat daar nog hoogtepunte op hom wag,” het Elgar gesê.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 453/10 in 136,2 boulbeurte: Keshav Maharaj 84, Dean Elgar en Taijul Islam 6/135.

Bangladesj 217 in 74,2 boulbeurte: Mushfiqur Rahim 51, Wiaan Mulder 3/25 en Simon Harmer 3/39.

Suid-Afrika 176/6 in 39,5 boulbeurte: Sarel Erwee 41 en Islam 3/67.

Bangladesj 80/10 in 23,3 boulbeurte: Maharaj 7/40 en Harmer 3/34.

  • Kolwers met die meeste lopies in die reeks:
  1. Dean Elgar: 227 lopies teen ’n gemiddeld van 56,75.
  2. Temba Bavuma: 198 lopies teen ’n gemiddeld van 48,50.
  3. Mahmudul Hasan Joy: 141 lopies teen ’n gemiddeld van 35,25.
  4. Keagan Petersen: 133 lopies teen ’n gemiddeld van 33,25.
  5. Sarel Erwee: 114 lopies teen ’n gemiddeld van 28,50.
  • Boulers met die meeste paaltjies:
  1. Keshav Maharaj: 16 paaltjies teen ’n gemiddeld van 12,12.
  2. Simon Harmer: 13 paaltjies teen ’n gemiddeld van 15,15.
  3. Taijul Islam: nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 22,44.
  4. Mehidy Miraz: nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 33,11.
  5. Khaled Ahmed: agt paaltjies teen ’n gemiddeld van 32,87.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.