Openingskolwer kry vir die 11de keer harsingskudding

Australië se Will Pucovski. Foto: Saeed Khan/AFP.

Will Pucovski se gesondheid is weer eens in die kollig nadat die Australiese openingskolwer vir die 11de keer in sy loopbaan harsingskudding opgedoen het.

In die jongste voorval was die 24-jarige speler besig om saam met sy Victoria-spanmaats litte los te maak vir hul meerdaagse wedstryd teen Suid-Australië, toe ’n vlugbal-bal hom skrams teen die kop getref het.

Hy moes later die veld ná slegs een boulbeurt verlaat toe hy van hoofpyn en naarheid begin kla het.

In ’n onderhoud met Channel Nine het Mark Taylor (oudkaptein van Australië se krieketspan) sy kommer oor Pucovski se gesondheid uitgespreek.

“Will Pucovski is veronderstel om die lig aan die einde van die kolfwerktonnel te wees. Hy is die jong Australiër wat die volgende Ricky Ponting kan wees – die ou wat vir 15 jaar toetskrieket speel. Maar om so baie kere harsingskudding op te doen? Dit is beslis kommerwekkend,” het Taylor gesê.

Volgens Shaun Graf, Krieket Victoria se prestasiebestuurder, is die span al geruime tyd bekommerd oor Pucovski se welstand.  Hy het verlede jaar ook ’n hele paar wedstryde misgeloop nadat ’n krieketbal hom tydens ’n oefensessie teen die kop getref het.

“Ons is baie bekommerd en ek glo dat hy met sy pa en bestuurder sal moet gesels om die pad vorentoe te bespreek,” het Graf gesê.

Pucovski is ongetwyfeld een van Australië se blinkste krieketsterre.

Hy het in 25 eersterangse wedstryde reeds 1 870 lopies teen ’n gemiddeld van 53,42 geslaan, terwyl hy die Donald Bradman-toekenning vir die beste jong Australiese krieketspeler in 2019 ontvang het.

Hy het sy toetsbuiging in 2021 teen Indië gemaak, maar ’n ontydige skouerbesering het sy internasionale loopbaan gekniehalter.

“Will beskik oor ongelooflike kriekettalent, maar een of ander tyd moet ’n mens besef dat jy dinge in oënskou sal moet neem. Dalk sal ’n goeie blaaskans die antwoord op sy mediese vrae wees.”

  • In 2014 is Phill Hughes in ’n fratsongeluk dood nadat een van Sean Abbott se aflewerings hom net agter die oor teen die skedelbasis in ’n Australiese eersterangse wedstryd getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Hierdie ou gaan in die laatere lewe probleem he. As ek nie verkeerd is nie met harsingskudding beweek jou brein binne in die skedel, of stamp rond binne in die skedel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.