Paine en leiding: Aussies bevraagteken kaptein se leierskap

Tim Paine. Foto: Twitter.

Tim Paine het nie die maklikste beroep in wêreldkrieket nie. Die Australiërs is krieketmal en daar word gereeld spottenderwys gesê dat die posisie van die krieketkaptein naas die eerste minister die tweede belangrikste leierskapposisie in die land is.

Nou is die 36-jarige paaltjiewagter – wat die kapteinskapleisels by Steve Smith ná die skuurpapiertoets op Nuweland in 2018 teen die Proteas oorgeneem het – se rol in die span ook in die spervuur.

Paine het in die afgelope reeks teen Indië onder druk geswig, ’n paar vangskote berou en sy taktiek op die veld is onder meer deur Ricky Ponting bevraagteken.

Indië het die reeks met 2 – 1 beklink nadat hulle vandag die beslissende toets op die Gabba gewen het.

Shane Warne het Ponting se mening onderskraag.

“Indië was die beste span in die reeks, terwyl Australië soveel verspeelde kanse deur hul vingers laat glip het. Die tuisspan se taktiek was by tye net nie goed genoeg nie en dit moet vierkant voor Tim Paine se deur gelê word,” het die legendariese bybreekbouler gesê.

Dan het Brett Lee nie net Paine se kapteinskap nie, maar ook sy vermoë agter die paaltjies gekritiseer.

“As ’n paaltjiewagter het hy waarskynlik nie die beste reeks agter die blad nie – iemand soos Tim Paine is gewoonlik baie veilig agter die paaltjies,” het Lee gesê.

Tog voel die beleërde Paine dat hy steeds die regte persoon is om Australië se toetskrieketspan na groter hoogtes te neem.

“Ek sien steeds ongelooflik uit na die Suid-Afrikaners se aanslag en ons wil die toetsreeks daar wen,” het Paine gesê.

Hoog op sy prioriteitslys is om toe te sien dat Australië in die eindstryd van die Internasionale Krieketraad se toetskampioenskap op Lord’s speel. En die komende reeks teen Suid-Afrika sal die Aussies se laaste kans wees om hul plek in die eindstryd te verseker.

“Ons doel is om in daardie eindstryd te speel en dit is iets wat steeds binne ons bereik is. Ek wil nog steeds met elke toets verbeter en ek wil steeds hierdie span op die veld lei.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Mooi gedoen Indië, dalk kom arrogante Aussies bietjie terug aarde toe. Fantastiese wen vir Indië en dit op die Aussie heilige “Gabba” veldjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.