Phil sy sout werd teen RCB

Die Delhi Capitals se Phil Salt. (Foto: Twitter/Delhi Capitals)

ʼn Vuurwerkvertoning deur Phil Salt het toegesien dat die Delhi Capitals op ʼn drafstap met Faf du Plessis se Royal Challengers Bangalore kon afreken.

RCB het eerste gekolf en oudergewoonte het Du Plessis en Virat Kohli ʼn stewige grondslag vir hul beurt gelê.

Die twee voormalige internasionale kapteins het ֹʼn openingsvennootskap van 82 lopies binne 11 boulbeurte geniet voordat Du Plessis vir 45 lopies deur Mitchell Marsh uitgehaal is.

Marsh het met sy volgende aflewering ook van die gevaarlike Glenn Maxwell ontslae geraak. Dit was die Aussie-kolwer se tweede nulletjie van die jongste Indiese Premierliga-toernooi.

Hoewel Kohli gereeld vyftigtalle vir sy span aanteken, sal daar indringend na sy treftempo gekyk moet word.

Baie hedendaagse krieketliefhebbers sal frons wanneer hulle sien dat Kohli 55 lopies van 46 balle geslaan het.

Daarteenoor kan Salt se beurt met ʼn wegholveldbrand vergelyk word.

Die 26-jarige paaltjiewagter, wat vir die Pretoria Capitals in die SA20-toernooi in aksie was, het 14 grenshoue in sy blitsbeurt van 87 lopies geslaan.

Toe hy in die 16de boulbeurt sy paaltjie verloor het, het die Capitals reeds 171 lopies op die telbord gehad.

Rilee Rossouw het ʼn paar aflewerings later die kragmeting met ʼn ses vir sy span beklink. Die Suid-Afrikaner het 35 onoorwonne lopies teen ʼn treftempo van 159,09 gemoker.

  • Opsomming van telkaart:

Royal Challengers Bangalore 181/4 in 20 boulbeurte: Virat Kohli 55, Mahipal Lomror 54* en Mitchell Marsh 2/21.

Delhi Capitals 187/3 in 16,4 boulbeurte: Phil Salt 87, Rilee Rossouw 35* en Josh Hazlewood.

Uitslag: Capitals wen met sewe paaltjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.