Pollock onder bestes in dié posisie

Graeme-Pollock, een van SA se heel beste spelers. (Foto Lord’s)

Gewoonlik staan die naam van ’n span se beste kolwer vierde op die kolflys. Hy moet die kastaiings uit die vuur kan krap wanneer die span ’n paar vinnige paaltjies verloor het, terwyl hy ook sy voet op die versnelpedaal moet hou wanneer die ander kolwers vir ’n goeie begin gesorg het.

Die sportwebblad Sportskeeda het al ’n lys van die beste kolwers in dié posisie opgestel: Saam met Sachin Tendulkar, Brian Lara en Ken Barrington word Suid-Afrika se Graeme Pollock ook uitgesonder.

En plaaslike krieketliefhebbers sal beslis hiermee saamstem.

Pollock word as een van die beste linkshandige kolwers in die spel se geskiedenis beskou. In ’n toetsloopbaan wat tot net 23 wedstryde weens Suid-Afrika se intenasionale sportisolasie beperk is, het hy 2 256 lopies teen ’n gemiddeld van 60,97 aangeteken.

Sy hoogste telling van 274 – wat hy in 1970 teen Australië in Durban gemoker het – was jare lank die hoogste toetstelling deur ’n Suid-Afrikaanse kolwer, totdat Daryll Cullinan dit in 1999 teen Nieu-Seeland verbeter het.

Maar een van Pollock se heel beste beurte was in die Kaapstad-toets teen Bob Simpson se Aussies in 1966.

Die besoekers het danksy Simpson (153) en Keith Stackpole (134) se pogings meer as 500 lopies in hul eerste beurt opgestapel. Daarteenoor was Suid-Afrika vroeg in die moeilikheid met sy telling op 85/5 – Eddie Barlow, Trevor Goddard en Ali Bacher was reeds terug in die kleedkamer.

Pollock het egter voortgekolf.

Sy beweging was beperk nadat hy sy dyspier verrek het. Hy het met sy voetwerk gesukkel en kon nie juis enige enkellopies waag nie, maar hy het die bal na hartelus na die grens gemoker.

Suid-Afrika is uiteindelik vir 353 lopies uitgehaal, waarvan Pollock op sy eie 209 lopies bygedra het.

Soos wat die Engelse joernalis Christopher Martin-Jenkins gesê het: “Graeme Pollock het nie ’n swak aflewering nodig om lopies aan te teken nie. ’n Kragtige dryfhou op die voorvoet of ’n briljante kaphou sorg dat die lopiekrane oopbly.”

Nóg ’n Suid-Afrikaner, Jacques Kallis, is ook op Sportskeeda se lys.

  • Pollock se loopbaanrekord:

Toetskrieket: 2 256 lopies in 23 toetse teen ’n gemiddeld van 60,97 en ’n hoogste telling van 274.

Eersterangse krieket: 20 940 lopies in 262 wedstryde teen ’n gemiddeld van 54,67 en ’n hoogste telling van 274.

Eendagkrieket: 4 656 lopies in 118 wedstryde teen ’n gemiddeld van 50,06 en ’n hoogste telling van 222*.

  • Die volledige lys:
  1. Sachin Tendulkar (Indië)
  2. Brian Lara (Wes-Indiese Eilande)
  3. Jacques Kallis (Suid-Afrika)
  4. Greg Chappell (Australië)
  5. Ken Barrington (Engeland)
  6. Javed Miandad (Pakistan)
  7. Graeme Pollock (Suid-Afrika)
  8. Martin Crowe (Nieu-Seeland)
  9. Inzamam-ul-Haq (Pakistan)
  10. Kevin Pietersen (Engeland)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie Biebouw ·

En in Suid-Afrika kry Pollock géén erkenning van die knielende KSA nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.