Protea-hartseer op Eden Gardens

Die Proteas het ’n naelbyt-halfeindstryd met drie paaltjies teen Australië verloor. (Foto: Arun Sankar/AFP)

ʼn Mens hou altyd heimlik duim vas dat dinge anders kan uitdraai, maar oudergewoonte is Wêreldbeker-uitspeelwedstryde die Proteas se achilleshiel.

Australië het Donderdag op Eden Gardens ʼn naelbytstryd met drie paaltjies in die 48ste boulbeurt beklink om vir die eindstryd teen Indië te kwalifiseer.

Op ʼn bewolkte dag in Kolkata het die Suid-Afrikaners se sterk kolforde gesukkel. Mitchell Starc en Josh Hazlewood het vir Temba Bavuma en kie laat bontstaan en voordat jy jou oë kon uitvee, was die telling 24/4.

Later het Travis Head se draaiboulwerk ook die kolfspan se momentumkraantjie toegedraai en Suid-Afrika is uiteindelik vir 212 lopies uitgeboul.

Hopeloos te min lopies vir ʼn Wêreldbeker-halfeindstryd.

As dit nie vir David Miller se skitterende vegtersbeurt van 101 lopies was nie, sou dinge selfs meer mistroostig gelyk het.

Daarna het Head en David Warner soos twee Australiese sneltreine weggetrek en ʼn openingsvennootskap van 60 lopies teen tien lopies per boulbeurt geniet.

Die Eden Gardens-kolfblad is egter uitgeknip vir draaiboulwerk en Aiden Markram het eerstens van Warner ontslae geraak, waarna Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi daarop baljaar het.

Hulle kon die Aussie-aanslag vir ʼn rukkie in sy spore stuit, terwyl ʼn vurige Gerald Coetzee met hernieude vuur en passie die Protea-wendeur ʼn skrefie oopgedwing het.

Maar Pat Cummins was daar toe Glenn Maxwell sy merkwaardige beurt teen Afghanistan gespeel het en die Aussie-kaptein het nou ook koelkop in ʼn drukkokersituasie gebly om die wenlopies vir sy span te slaan.

Kan ʼn mens die choke-woord sê?

Daar sal waarskynlik ʼn hele paar ondersteuners wees wat dit vandag na hartelus gebruik en vroeg in die Protea-kolfbeurt was daar inderdaad ʼn bekende krapperigheid in die keel.

Maar die Suid-Afrikaners wou bitter graag wen – kyk net na Miller se kolfbeurt en Coetzee en kie se passie ná elke paaltjie.

Soms verloor ʼn span maar net ʼn krieketwedstryd. Dit is net ʼn jammerte dat dit nou met Suid-Afrika moes gebeur.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 212/10 in 49,4 boulbeurte: David Miller 101, Heinrich Klaasen 47 en Mitchell Starc 3/34.

Australië 215/7 in 47,2 boulbeurte: Travis Head 62, Steven Smith 30 en Tabraiz Shamsi 2/42.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Manie ·

Die top 4 kolwers kon saam net 19 lopies aanteken en met 4 verbroude vangkanse wanneer jy ‘n lae telling verdedig kan jy nie wen nie.

Jakes ·

Die Proteas sukkel nog altyd wanneer dit saak maak om te wen. In hierdie wedstryd het ons 4 toporde uiters swak vertoon en was die uitslag toe reeds n uitgemaakte saak. Die wedstryd teen Holland het ons swakhede beklemtoon.

Frank ·

Die verloor teen die Nederlanders wys maar net hulle koppe is nie reg nie, al het hulle al die talent in die wereld. Iemand moes gister verloor, op ‘n moeilike blad. Die Aussies het maar net so gesukkel, so ek sal nie so makilik die chokers tag toeken nie.
Maar ja, catches win matches. veldwerk was gister die GROOT verskil, eenvoudig soos dit. Plus ‘n beseerde speler, plus Coetzee wat nie uit was nie (nie review nie).

Martin ·

Gaaaaap…. Hulle kan maar bietjie op die vliegtuig terug lekker rus.

Christo ·

Dis wat gebeur as jy beseerde kwotas, kaptein maak en in `n semi-finaal teen Australie laat speel. Ek hoop Rob Walter en Temba Bavuma word nou weggejaag. Die blaam sit vierkantig by hierdie twee

Frank ·

Bavuma was gister soos ‘n blaartjie in die wind. Later nie meer geweet wat om te doen nie. Ek het hom regtig jammer gekry, die kapteinskap is op hom afgedwing vir politieke punte (en hy het dit aanvaar…), terwyl hy GLAD nie kapteinsmateriaal is nie.
Dis hoekom De Kock die leiding moes oorneem.
Bavuma is ‘n goeie kolwer, al het hy in die wereld beker swaar getrek. Onthou met die IPL wou niemand hom koop nie, so hy was ook nie vertroud met die Indiese blaaie nie. Lol

Wiehann ·

Waar is die gees. Die wil om te wen. Die span is tjoepstil.

Bavumba was defnitief niks werd in die hele reeks nie. Sy besluite oor boul keuses en veldwerk posisies het ons baie in die steek gelaat. Sy bydrae met die kolf is ook sub-standaard vir ‘n byeenkoms soos die wêreld beker. Reeza Hendriks is wel bietjie op en af met sy kolf vermoë, maar hy het darem ‘n “op”. Hy sou baie beter keuse gewees het. Ngidi, Rhabada en Coetzee is baie onvoorspelbaar en bring nie die intensiteit wat ons nodig het nie. Shami blyk onfiks en word net af en toe gespeel, wat regtig jammer was. Die staatmakers het defnitief hul kant gebring en bewys dat daar wel hoop is vir die toekoms. Ons gaan vir Quintin mis, en hoop nie ander volg hom nou na nie.

Daar is verskriklik baie SA spelers in ander spanne nie net in die krieket nie, maar ook ons die rugby. Politiek in sport is besig om van ons top sport manne en vroue uit sport te hou en hul vind beter lande waar hul, hul talente kan gebruik.

Ore ·

Dit gaan nie oor verloor nie, dit gaan oor hoe jy verloor. Ons sit met ‘n kaptein wat nie 100% fiks was nie en saam met dit is hy nie op vorm nie. Waarom volhard die keurders om hom te laat speel? Waarom was hy nie groter as die span en SA deur te onttrek nie? Emosionele besluite, ego’s en heethoofdigheid.

SwartBees ·

Bavuma en die top orde was die proteas se enigste groot vyande. Chokers.

Wat soek Bavuma nog daar, hy bring niks na die tafel toe.

Witbaard ·

Weereens het die sogenaamde top kolwers geknak onder die druk. Dit help niks jy is ‘n hero teen klein spanne nie. Al wat dit doen is om die kolwer se stats op papier beter te laat lyk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Solank hulle net iets geleer het en die toernooi geniet het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.