Proteas beklink reeks in Engeland

Tabraiz Shamsi het vandag vyf paaltjies teen Engeland laat spat. Foto: Steve Badden/AFP.

Die Proteas het uiteindelik weer ’n witbalkrieketreeks in Engeland gewen toe hulle vandag vir Jos Buttler-hulle in die derde en beslissende T20-wedstryd met 90 lopies ore aangesit het.

Die Suid-Afrikaners kolf deesdae met meer vryheid as vantevore en selfs al is Quinton de Kock vir ’n nulletjie deur David Willey terug na die kleedkamer gestuur, het Rilee Rossouw en Reeza Hendricks nie hul voet van die versnelpedaal gehaal nie.

Rossouw het 31 lopies vanaf slegs 18 aflewerings aangeteken en sy beurt het ses viere ingesluit. Terselfdertyd het Hendricks (70 lopies) sy derde vyftigtal van die reeks aangeteken en hy het deurgaans die Engelse boulers onder druk met sy houespel geplaas.

Daarna het Aiden Markram (51 lopies) en David Miller (22 lopies) se flitsende kolwe gesorg dat die besoekers 191/5 in hul toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

Dit het beteken dat die Engelse kolwers vanuit die staanspoor teen meer as nege lopies per boulbeurt vir ’n oorwinning moes aanteken. En die Suid-Afrikaners se akkurate boulwerk het hierdie taak aansienlik bemoeilik.

Al ses boulers wat David Miller ingespan het, het minder as sewe lopies per boulbeurt afgestaan, terwyl die paaltjies ook gereeld gespat het.

Terselfdertyd het die besoekers se veldwerk aansienlik verbeter en die opwindende Tristan Stubbs het onder meer met ’n uitstekende poging vorendag gekom om van Moeen Ali ontslae te raak.

Die ster was ongetwyfeld Tabraiz Shamsi (5/24) wat die Engelsmanne dronk gedraai en hulle knaend op die agtervoet geplaas het. Hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys, terwyl Hendricks die speler van die reeks is.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 191/5 in 20 boulbeurte: Reeza Hendricks 70, Aiden Markram 51* en David Willey 3/25.

Engeland 101/10 in 16.4 boulbeurte: Jonny Bairstow 27, Tabraiz Shamsi 5/24 en Keshav Maharaj 2/21.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Hierdie span raak al beter, die talent kom nou deur en dit was net ‘n kwessie van “voete vind” vir die nuwe ouens wat oor ‘n tydperk van so 3 jaar gelede ingekom het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.