Proteas kry vir oulaas slypkans vóór WB

Temba Bavuma. Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP.

Temba Bavuma sal nie toelaat dat verlede week se veilingdwarsklap sy leierskap negatief beïnvloed nie.

Die Proteas speel vanaf môre in hul laaste mik-en-mokerreeks voordat die T20-Wêreldbeker amptelik in Australië begin.

“Die span is my hooffokus en ek wil die Proteas na die beste van my vermoë op die veld lei,” het Suid-Afrika se witbalkrieket-kaptein gesê.

Bavuma se T20-spelpeil is deesdae in die kollig nadat nie een van die spanne in sy dienste vir die SA20-toernooi belang gestel het nie.

Ja, hy kry nou ’n kans om sy kritici se monde met ʼn goeie wilgerlatvertoning te snoer, maar dit sal gewis nie ʼn maklike taak teen die Indiese boulers wees nie.

Hy het juis in Suid-Afrika se vorige toer na Indië harde bene teen Bhuvneshwar Kumar se akkurate boulwerk gekou, terwyl Jasprit Bumrah ook nou weer gereed vir aksie is.

“Op hul tuisveld kan Indië se snelboulers die bal baie goed van die naat laat beweeg – selfs meer as dit waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is. As kolwers sal ons op ons hoede daarvoor moet wees en probeer om nie paaltjies te verloor nie.”

Die gewildheid van T20-krieket beteken dat die grense in Indië nie baie groot is nie en die Proteas sal met slim kolfwerk vorendag moet kom as hulle die reeks wil wen.

Tog kan ʼn bietjie avontuurlustige spel ook nie skade doen nie.

Die eerste T20-wedstryd begin môre om 15:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Protea-groep: Temba Bavuma, Quinton de Kock, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Wayne Parnell, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Rilee Rossouw, Tabraiz Shamsi en Tristan Stubbs.

Indië-groep: Rohit Sharma, KL Rahul, Arshdeep Singh, Ravichandran Ashwin, Jasprit Bumrah, Yuzvendra Chahal, Deepak Chahar, Dinesh Karthik, Virat Kohli, Rishabh Pant, Axar Patel, Harshal Patel en Suryakumar Yadav.

Bepalings vir die wedstryde teen Indië:

28 September: Eerste T20-wedstryd

2 Oktober: Tweede T20-wedstryd

4 Oktober: Derde T20-wedstryd

6 Oktober: Eerste eendagwedstryd

9 Oktober: Tweede eendagwedstryd

11 Oktober: Derde eendagwedstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Manie ·

Die keurders het die ideale geleentheid gemis om vir Brevis ‘n kans te gee. Hy kan nie veel swakker speel as ‘n paar name wie wel gekies is nie.

George ·

Hy het nog nie regtig so perform dat hy gekies moet word nie… avg van 23 in IPL…sy scores in die CPL – 0, 14, 4, DNB, 13, 11, DNB, 32,21,30. -AVG van 15… Temba – avg van 27.

George ·

Ek sal se, hulle moet hom eers in SA A betrek dat hy daar speel. Hy is n talent wat ons kan kweek. Hy kort n mentor soos n Ponting, Dravid, Hussey.

Gawie ·

Bavuma was nog eintlik nooit ‘n goeie witbal-speler gewees nie. Daarom wou niemand hom op die veiling gekoop het nie. Ek was verbaas toe hy destyds as die kaptein aangewys is. Selfs sy toetsrekord is ook nie wat wonders nie. Slegs een honderdtal met ‘n gemiddeld van ongeveer 34

Frank ·

Hoekom ook n reeks eendag wedstryde net voor die wereldbeker? Beide Indie en SA gaan daaronder ly.

George ·

Want ons kapteins kan nooit besluit om te se ons “speel te veel” / “ons moet rus” of “ons speel te min” nou dek hulle elke hoekie vir hul verskonings

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.