Proteas stamel, maar veg voort in Hamilton

Ruan de Swardt het met sy vegtersbeurt uitgeblink. (Foto: Fiona Goodall/AFP)

Dit is hoegenaamd nog nie ʼn oortuigende vertoning nie, maar die Suid-Afrikaanse kolwers kon darem die 200-lopiekerf in die tweede toets teen Nieu-Seeland in Hamilton verbysteek.

Neil Brand het die loot gewen en besluit om eerste te kolf en dinge het op die slegste manier moontlik begin toe sy aanvangsmaat, Clyde Fortuin, met die eerste aflewering wat hy trotseer het uitgevang is.

Daarna het Raynard van Tonder, Zubayr Hamza en David Bedingham hulself teen die Kiwi-boulwerk verskans, net om die wit vlaggie teen Rachin Ravindra se draaiboulwerk te swaai.

Van Tonder is weliswaar deur die Suid-Afrikaans gebore Neil Wagner uitgeknikker, maar Hamza, Bedingham en Keegan Petersen het almal kop teen Ravindra verloor.

Suid-Afrika het met sy telling op 150/6 gesteier, maar gelukkig kon Ruan de Swardt (55 nie uit nie) en Shaun von Berg (34 nie uit nie) darem van die kastaiings uit die vuur krap met hul onoorwonne vennootskap van 70 lopies om die sewende paaltjie.

Die twee kolwers sal môre moet uithaal en wys want ná hulle moet die Proteas op die bedenklike kolfvernuf van Dane Piedt, Tshepo Moreki en Dane Paterston steun.

Indien Brand-hulle die toets verloor, sal hulle die eerste Suid-Afrikaanse span word om in ʼn rooibalkrieketreeks die onderspit teen die Swartpette te delf.

Tog het die tussentydse Protea-kaptein ʼn beter vertoning in dié toets beloof.

“Ek het ná die eerste toets vir die ouens gesê dat ons vir ongeveer 65% van die kragmeting goeie krieket opgedis het. Nodeloos om te sê moet ons bitter vinnig uit ons foute op dié vlak leer, maar ons is desperaat om dinge reg te stel,” het Brand gesê.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 220/6 in 89 boulbeurte: Ruan de Swardt 55*, David Bedingham 39 en Rachin Ravindra 3/33.

  • Spanne:

Suid-Afrika: Neil Brand (kaptein), Clyde Fortuin, Raynard van Tonder, Zubayr Hamza, David Bedingham, Keegan Petersen, Ruan de Swardt, Shaun von Berg, Dane Piedt, Tshepo Moreki en Dane Paterson.

Nieu-Seeland: Tom Latham, Devon Conway, Kane Williamson, Rachin Ravindra, Will Young, Tom Blundell, Glenn Phillips, Matt Henry, Tim Southee (kaptein), Neil Wagner en William O’ Rourke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.