Proteas wéér met die rug teen die muur

England se Dom Sibley (links) en Suid-Afrika se Beuran Hendricks (24 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Themba Hadebe)

Mark Boucher, Jacques Kallis en Graeme Smith ís vegters. Wie sal ooit Kallis se epiese honderdtal op die Melbourne Cricket Ground in 1997 vergeet toe hy die toets as 22-jarige vir die Proteas teen boulers soos Shane Warne en Glenn McGrath gered het?

Dan is Graeme Smith se rateltaai-heldedaad gedurende die Proteas se Aussie-toer van 2008 nog vars in die geheue. Die kougomkouende voormalige Suid-Afrikaanse kaptein het met ’n gebreekte hand uitgestap om te kolf – selfs al was die reeks reeds in die sakkie – om vir die blitsige Mitchell Johnson die stryd aan te sê.

Oor Boucher se veggees sal antiekskrywers soos Homeros en Suetonius waarskynlik liries raak. Hy het as jong speler ’n rekordvennootskap van 195 lopies om die 10de paaltjie saam met Pat Symcox geniet, terwyl hy aan die stuur van die skip was toe Suid-Afrika vir Australië in die 438-wedstryd getroef het.

Verdien hulle die huidige Protea-geploeter?

Glad nie.

Die Proteas is weer eens met die rug teen die muur ná net twee dae se spel op die Wanderers in Johannesburg. Die Engelse toerspan het 400 lopies in hul eerste beurt aangeteken, grotendeels te danke aan ’n vennootskap van 82 lopies om die 10de paaltjie tussen Stuart Broad en Mark Wood.

Teen uitskeityd was die Proteas kniediep in die moeilikheid met hul telling op 88/6. Deal Elgar, Pieter Malan, Rassie van der Dussen, Faf du Plessis, Temba Bavuma en Nortje is almal terug in die kleedkamer; nog 312 lopies weg van Engeland se eerstebeurttelling.

Darem is daar ’n bietjie lig aan die einde van ’n donker Protea-tonnel: Anrich Nortjé het met aggressie en vuur geboul om vir die eerste keer vyf paaltjies in ’n toetsbeurt te neem. Hy het die Engelse kolwers met kartetse van 145 km/h laat bontstaan en hy het letterlik sy gô vir sy span uitgeboul.

Maar die res van die Protea-boulers, buiten dalk vir Philander, het met tye soos klubspelers gelyk. Beuren Hendricks en Dane Paterson het gesukkel en hulle is nie heeltemal in dieselfde klas as Kagiso Rabada en Lungi Ngidi nie.

As ’n kolwer met ’n goeie aflewering uitgehaal word, is daar nie veel wat ’n afrigter kan doen nie. Maar wat vir Boucher-hulle warm onder die kraag moet maak, is die kere wat die Protea-kolwers net pleinweg gehênsop het gedurende die reeks.

Temba Bavuma het sy terugkeer tot die span met ses lopies gevier, terwyl die beleërde Faf du Plessis vir drie lopies uitgehaal is.

Indien daar nie ’n veggees-wonderwerk plaasvind nie, gaan die Proteas weer met ’n beurttelling verloor. Iets wat Boucher-hulle nie verdien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

René Joubert ·

Nee hulle verdien dit nie, maar hulle het hulself in die posisie as bestuur geplaas deur betrokke te raak omdat hulle geglo het hulle kan ‘n verskil maak, so hulle moet dit maar vat. Wat ander in jare opgemors het, sommer ook die hele stelsel, maak selfs ‘n wonderwerk nie binne ‘n maand reg nie. Dan vra ek, met dit wat hulle oorgeneem het, wat verdien hulle en Suid-Afrika anders?

m,d,r ·

Nee, Smith hulle verdien beslis nie hierdie geploeter nie. Maar wat is die rede hiervoor..?
Eerstens is dit nou die tweede keer dat die Engelse ‘n groot eerste beurt totaal opsit.
Dit was elke keer a.g.v. swak boulwerk aan ons kant.
In hierdie toets het ek gesien dat Patteson in een boulbeurt ses agtereenvoudige balle ver buite die wegpen afstuur….. en die kolwer het hom nie verwerdig om daarna te speel nie. Hy was ook nie die enigste bouler wat met die bal gemors het nie.
Ek onthou nog goed hoe Sandy Bell (springbok snelbouler van circa 1936) as afrigter vir ons gese het”: you cant get the wicket if the batsman does not have to play at that delivery..”
Nortje se boul ontleding vertel ook dat hy maar swaar gekry het, vyf paaltjies ten spyt..!
Waar le die fout ? Is dit die gevolg van die kwota stelsel ? Te veel aandag aan politiek en te min aan tegniek ?
Of dalk is dit die oordrewe hoeveelheid T20 wedstryde. waar ‘n bouler eintlik net ‘n boulmasjien is waarvan die kolwers sesse probeer slaan….. en ja terselfder tyd leer kolwers ook nie die fynere kunsies van kolfwerk nie.
Ek meen bgin by die boulers—en die afrigters ? Waar is Pollock, Ntini ,Donald en andere ?

Duppie ·

O, I love it, I love it. Suid Afrikaanse sport is net so groot gemors soos wat die land is.

Therese ·

Moeilik om te glo dis min of meer dieselfde span wat die Aussies desperaat genoeg gehad het om skuurpapier op die veld te neem.

jakes ·

Dit is n skande dat ons top 5 kolwers so swak vaar. Die keurders moet daaraan dink om Dawid Miller nader trek vir toetskrieket. Ons boulers is pateties en laat die engelse kolwers goed lyk. Spelers soos Elgar, Faf en Vanderdussen is hopeloos tans en hoort nie in die span nie. Hoekom kan Quinten De Kock baie lopies maak terwyl sy maters so hopeloos voorkom?

koos ·

jakes, dis baie maklik om dit Quinten se spel te verduidelik, hy is in die span omdat hy verdien om daar te wees. Ek is 100% oortuig dat die res daar is vir ‘n paycheck.
“Korupsie” in spankeuses is vir my die grootste probleem. Wys die beste spelers aan en dan die kaptein. Ek dink dis loutere snert dat die kaptein ‘n insae het in die spankeuses.
Die spelers moet op die veld speel nie in die raadsale nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.