Rabada se perfekte streepbal

Kagiso Rabada het al ’n hele paar kolwers in vanjaar se IPL platgetref. Foto: Cricinfo.

Teoreties gesproke behoort ’n streepbal maklik te wees om af te stuur: Basies is dit ’n aflewering wat eers by ’n kolwer se groottoon bons.

Maar in die praktyk is dit egter ’n ander storie en bitter min snelboulers kry dit reg – veral in die doodsnikke van ’n eendag- of ’n T20-wedstryd.

Die uitsondering op dié reël behoort Kagiso Rabada te wees. Die SA blits het juis vroeër in ’n onderhoud gesê streepballe is nie eintlik so moeilik as wat almal dink nie – jy moet dit net gereeld inoefen.

Rabada, wat vir die Delhi Capitals in die Indiese Premierliga speel, het so pas nóg ’n perfekte streepbal afgestuur om van die Rajastan Royals se Stuart Binny ontslae te raak. Die aflewering is teen 149 km/h gemeet.

Kort daarna het hy nog ’n kolwer skoongeboul – dié bal is teen ’n blitsige 152 km/h afgestuur.

Die 23-jarige oudleerder van St Stithians College in Johannesburg is tans die voorste paaltjievraat in die 2019-IPL-toernooi. In 11 wedstryde het hy 23 kolwers terug na die kleedkamer gestuur teen ’n gemiddeld van 14.65 lopies per paaltjie.

Verdere goeie nuus vir die Proteas op die vooraand van die Wêreldbeker in Engeland is dat Imran Tahir net so goed op dreef is.

Tahir gaan weliswaar ná afloop van die krieketskouspel uit internasionale krieket tree, maar sy spelpeil is tans witwarm.

Hy het die naasmeeste paaltjies in die IPL (16) laat kantel en staan ’n skamele 5.89 lopies per beurt af – basies goud in T20-krieket werd.

Dale Steyn het ook sy stempel in sy terugkeer vir die Royal Challengers Bangalore afgedruk: In twee wedstryde het hy vier paaltjies geneem en veral die lopiekrane laat in die kolfbeurt vir RCB toegedraai.

Chris Morris – die vergete man van SA krieket – tel ook onder die voorste boulers in die IPL.

  • Rabada se aflewering van 152 km/h tel onder die vinnigste in die IPL, maar hy sal nog ’n paar ekstra ure in die gimnasium moet sweet indien hy naby Shoaib Akthar se rekord wil kom.

Die Pakistanse snelbouler het tydens die 2003-Wêreldbeker die vinnigste aflewering in krieketgeskiedenis afgestuur toe hy ’n snelheid van 161.3 km/h teen Engeland bereik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.