Rassie, Ryan laat die vonke spat

Rassie van der Dussen het die eerste honderdtal van die 2024-weergawe van die SA20-toernooi gemoker. (Foto: X/MI Cape Town)

Diegene wat kla oor Rassie van der Dussen se kolftempo moes net na vandag se SA20-wedstryd tussen MI Cape Town en die Joburg Super Kings gekyk het.

Die 34-jarige kolwer het die eerste honderdtal van die tweede weergawe van die plaaslike mik-en-mokertoernooi op die Wanderers aangeteken en hy het saam met die aggressiewe Ryan Rickelton toegesien dat die Kapenaars ʼn reusagtige 243/5 in die toegelate 20 boulbeurte geslaan het.

Van der Dussen het 15 grenshoue in sy spogbeurt van 104 lopies van slegs 50 aflewerings gemoker, terwyl Rickelton 98 lopies van 49 balle geslaan het.

En die spogvertonings was ook nie teen sommer sulke hierjy boulers nie.

Die Super Kings beskik oor ʼn vurige boulaanval met Nandre Burger en Lizaad Williams voor in die koor, terwyl die ervare Imran Tahir steeds ʼn bedreiging in die korter weergawe van die spel is.

Dan het Engeland se Moeen Ali met 199 T20-paaltjies in aanloop tot die wedstryd gespog.

Maar Van der Dussen en Rickelton se flitsende kolwe het niemand ontsien nie: Burger het 13 lopies per boulbeurt afgestaan – hy het weliswaar die beurt uitstekend met twee paaltjies afgesluit – terwyl daar vier sesse van Zahir Khan se boulwerk geslaan is.

Die Super Kings se Faf du Plessis en Kie sal hul storie moet ken om dié teiken suksesvol te jaag. Maar op die Wanderers is enigiets wel moontlik.

  • Opsomming van die telkaart:

MI Cape Town 243/5 in 20 boulbeurte: Rassie van der Dussen 104, Ryan Rickelton 98 en Nandre Burger 3/53.

  • Spanne:

MI Cape Town: Rassie van der Dussen, Ryan Rickelton, Dewald Brevis, Connor Esterhuizen, Liam Livingstone, Kieron Pollard (kaptein), Sam Curran, George Linde, Kagiso Rabada, Beuran Hendricks en Olly Stone.

Joburg Super Kings: Faf du Plessis (kaptein), Reeza Hendricks, Ronan Hermann, Leus du Plooy, Moeen Ali, Donovan Ferreira, Romario Shepherd, Lizaad Williams, Nandre Burger, Zahir Khan en Imran Tahir.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.