Reeks om die As: Engeland se goue kans om Aussies te troef

(Foto: @englandcricket/Twitter)

Die Engelse krieketspan het nog selde ʼn beter kans gehad om Australië te klop as in die derde toetswedstryd in die reeks om die As op Headingley in Leeds.

Nadat die vierde dag se spel van die derde toets byna weens reën verlore gegaan het, het Stuart Broad (3/45), Chris Woakes (3/68) en Mark Wood (2/66) die Engelse in ʼn gunstige posisie geplaas.

Die Aussies, wat 263 in hul eerste beurt aangeteken het, het ná ʼn lang reënonderbreking op 112/4 in hul tweede beurt voortgekolf, maar hulle is in gunstige bewolkte boulstande vir slegs 224 uitgehaal.

Was dit nie vir Travis Head (77) nie, sou die Aussies nie eens by 200 lopies uitgekom het nie.

Dit het aan Engeland, wat 237 lopies in sy eerste kolfbeurt aangeteken het, die taak gestel het om 251 lopies vir ʼn oorwinning aan te teken.

Ben Duckett (19*) en Zak Crawley (8*) kolf Sondag op 26/0 voort en benodig nog 221 lopies om aan die deur vir die Engelse vir die res van die reeks oop te swaai.

Baie gaan afhang hoe die Engelse gaan kolf.

Gaan hulle voortgaan met hul aggressiewe benadering wat die afrigter, Brendon McCullum, en die kaptein, Ben Stokes, voorstaan of gaan hulle na die ou kolfhandleiding van krieket terugkeer en nie onnodig kanse waag nie?

My geld is op Baz-bal, die huidige taktiek om elke bal te moker.

Goeie weer word vir die laaste dag voorspel en met 90 boulbeurte oor, is die tafel gedek vir ʼn naelbyteinde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.