Reeks om die As: Engelse proe 90 jaar later eie medisyne

Engeland se afrigter Brendon McCullum. (Foto: Marty MELVILLE/AFP)

In die huidige reeks om die As tussen die krieketspanne van Engeland en Australië, is die skoen aan die ander voet.

Kom ons blaai terug na die rekordboeke, na die omstrede reeks wat in 1932‑’33 in Australië gespeel is en Engeland met 4-1 gewen het.

Die Aussies, met die wêreld se beste kolwers, Donald Bradman, Bill Woodfull, Bill Ponsford en Alan Kippax, in hul geledere, het uitgetroon, veral nadat hulle die reeks in 1930 in Engeland gewen het.

Maar toe bedink die Engelse kaptein, Douglas Jardine, en die snelboulers Harold Larwood en Bill Voce voor die span se vertrek in die Piccadilly-hotel in Londen ʼn plan om Bradman-hulle in te katrol.

Die omstrede plan was om die kolwers met kort, kort balle aan die bypen te teister met ʼn kring van veldwerkers aan die bykant.

Onthou dit was in die dae voor kopskerms, goed voorbereide kolfblaaie, lyf- en armbeskermers en handskoene wat die kartetse kon weerstaan.

Die taktiek, wat as body line gedoop is, het tot ʼn woordeoorlog gelei en het byna die toer gekelder.

Dit het ook daartoe gelei dat die reëls verander is om slegs twee veldwerkers aan die bykant agter die paaltjies toe te laat en ook om net een opslagbal per boulbeurt deur te laat.

Terug na die huidige reeks: Engeland volg onder die Nieu-Seelandse afrigter Brendon McCullum die sogenaamde “Bazball-taktiek” (McCullum se bynaam is Baz), waar elke bal so hard as moontlik geslaan word.

Dit het onmiddellik vrugte afgewerp en feitlik al die spanne het reeds daaronder deurgeloop – voor die huidige reeks.

Die Aussies het reeds in die eerste toets ʼn uiters verdedigende veld opgestel waar twee tot drie spelers die grens aan die begin van die Engelse kolfbeurt gepatrolleer het.

Op die tweede dag van die tweede toets op Lord’s is daar na Plan B oorgeskakel.

Mitchell Starc, Pat Cummins, Josh Hazlewood en Cameron Green het die kolwers met kort en opslagballe aan die bykant gepeper.

Die Engelse was gefrustreerd, het probeer haak wanneer hulle nie moes nie en het hul paaltjies opgeoffer.

Nadat Australië 416 en 279 in hul twee kolfbeurte aangeteken het, moes Engeland 371 lopies vir ʼn oorwinning aanteken nadat hulle vir 325 lopies in hul eerste kolfbeurt uitgehaal is.

Hulle het Saterdagaand op 114/4 gaan uitspan en die kanse is skraal dat hulle ʼn verdere 257 lopies sal opstapel om te wen.

Die Engelse vestig hul hoop op Ben Stokes (29*) en Ben Duckett (50*), met Johnny Bairstow en die lang stert wat volg.

Dit gaan ʼn byna onbegonne taak wees in ʼn wipbaloorlog aan die bykant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.