Reeks om die As: Reën kan Engelse uitknikker

Marnus Labuschagne (Foto: Saeed Khan/AFP)

ʼn Suid-Afrikaner van geboorte en deurdringende reën wat vir die laaste twee dae van die vierde kriekettoets in die reeks om die As tussen Engeland en Australië in Manchester voorspel word, kan die Aussies se bondgenote wees wanneer spel Saterdagmiddag op Old Trafford hervat word.

Engeland het die Aussies op hul knieë, want die besoekers kort nog 162 lopies om ʼn beurtnederlaag af te weer.

Dit het gevolg nadat Australië, wat 317 in sy eerste beurt aangeteken het, Saterdag (mits die weer dit toelaat) op 113/4 kom voortkolf.

Marnus Labuschagne (44*) en Mitchell Marsh (1*) sal die beurt hervat nadat Engeland 592 lopies in sy eerste beurt aangeteken het.

Engeland se totaal is die hoogste sedert 1985 nadat Johnny Bairstow (99*), Harry Brook (61) en Ben Stokes (51) die skroewe verder vasgedraai het ná Zak Crawley se meesterlike beurt van 189 en Joe Root se 84 op die tweede dag.

Bairstow, wat ʼn vennootskap van 66 lopies saam met die veteraan James Anderson (5) om die laaste paaltjie aangeteken het, het slegs 81 balle ontvang. Hy het tien viere en twee sesse gemoker.

As die toets weens reën onbeslis eindig, sal Australië steeds met 2-1 voorloop en die As behou met slegs die vyfde toets op die Oval in Londen oor.

Maar as Engeland se Mark Wood (3/17), Stuart Broad, Chris Woakes en Anderson vroeg van Labuschagne ontslae kan raak, sal die reeks op 2-2 op ʼn naaldpunt wees.

* ʼn Lang rits spelers het ook 99 lopies in toetskrieket behaal.

Dit sluit onder andere Aubrey Faulkner, Bruce Mitchell, Trevor Goddard, Andrew Hall, Neil McKenzie, AB de Villiers, Jacques Kallis en Shaun Pollock van Suid-Afrika in.

Dit het ʼn vorige keer ook met Bairstow gebeur toe hy in 2017, ook op Old Trafford, op 99 teen Suid-Afrika uitgehaal is.

Dan het Faf du Plessis en Dean Elgar 199 in ʼn kolfbeurt behaal toe hulle uit is.

Die Nieu-Seelander Martin Crowe was volgens cricinfo.com in 1991 in ʼn toets teen Sri Lanka op 299 gestrand toe hy uit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.