Reeks om die As: Stokes hou die sleutel

Engeland se Ben Stokes. (Foto: Marty Melville/AFP)

Wanneer twee van die wêreld se vurigste krieketspanne mekaar trompop loop, is die tafel gedek vir ʼn feesmaal.

Vrydag se derde dag van die derde toetswedstryd in die reeks om die As tussen Engeland en Australië op Headingley in Leeds stuur op ʼn riller af, want dit het al die bestanddele van ʼn wenresep.

Heel voor in die kollig was die twee kapteins, die Aussies se Pat Cummins (6/91) en Ben Stokes van Engeland (80 lopies van net 103 balle af met ses viere en vyf sesse) wat van voor gelei het.

Dan het Stuart Broad die Aussies se aanvangskolwer David Warner se paaltjie die 17de keer in toetskrieket geneem het. Boonop het die Engelse paaltjiewagter Jonny Bairstow na Steve Smith gekap het toe hy in sy 100ste toetswedstryd agter die paaltjie gevang is en toe die beslissing na die televisieskeidsregter verwys het.

“Sien jou ‘smudge’,” het Bairstow aan Smith gesê en verdere olie op die vuur gegooi in ’n reeks wat op ʼn meskant gebalanseer is en waar daar geen geskenke uitgedeel word nie.

Die Aussies, wat 263 in hul eerste beurt aangeteken het, kolf Saterdag op 116/4 voort met ʼn voorsprong van 142 lopies.

Engeland is in sy eerste beurt vir 237 lopies uitgehaal, ʼn agterstand van 26 lopies nadat die tuisspan op 142/7 diep in die moeilikheid was.

Maar toe red Stokes weer sy span met sy aggressiewe kolfbeurt.

Stokes, wat 155 lopies in Engeland se tweede beurt in die onlangse tweede toets op Lord’s gemoker het, spog nou met 6 008 lopies in toetskrieket asook 197 paaltjies. Hy is ongetwyfeld die beste huidige veelsydige speler in wêreldkrieket.

Volgens cricinfo het die legendariese Ierse sportskrywer Con Houlihan gesê dat daar in enige sportspan ʼn rooikop moet wees.

Stokes, wat in Christchurch in Nieu-Seeland gebore is, voldoen nie net aan daardie vereiste nie, maar hy is die gom van die huidige span wat met ʼn aanvallende kolfbenadering die toeskouers in hul duisendtalle na toetskrieket teruglok.

Die Aussies, wat reeds met 2-0 in die reeks van 5 toetse voor is, het straks weer die hef in die hand tensy die Engelse vroeg Saterdag met die bal toeslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.