Reën lag laaste in Protea-stryd

Quinton de Kock op volle vaart. Foto: Twitter.

Nóg ʼn Wêreldbeker-toernooi en nóg ʼn Protea-wedstryd wat deur eendeweer beïnvloed is.

Suid-Afrika het vandag die punte met Zimbabwe in hul openingswedstryd van die internasionale T20-skouspel in Australië gedeel nadat reën die Quinton de Kock-wegholtrein ontspoor het.

Nat toestande het die tweestryd aanvanklik tot nege boulbeurte per span verkort en die Suid-Afrikaanse snelaanval het die Zimbabwiërs laat bontstaan.

Wayne Parnell het die eerste paaltjie laat kantel, waarna Lungi Ngidi gesorg het dat die buurland met hul telling op 19/4 gesteier het.

ʼn Goeie beurt deur Wessly Madhevere het egter toegesien dat sy span 79/5 in hul toegelate nege boulbeurte kon aanteken.

Die reën het kort daarna weer begin val en die Proteas se wenteiken is na 64 lopies in sewe boulbeurte aangepas. En dit is hier waar De Kock sy stempel behoorlik op die wedstryd afgedruk het.

Die paaltjiewagter – wat vroeër drie uitstekende vangskote in Zimbabwe se beurt benut het – het met sy warrelwind-wilgerlatvertoning die wind uit die boulers se seile gehaal.

Hy het 23 lopies vanaf Tendai Chatara se openingsboulbeurt gemoker en binne ʼn oogwink het hy en Temba Bavuma ʼn openingsvennootskap van 51 lopies in drie boulbeurte geniet.

Bavuma het alles van twee lopies tot die vennootskap bygedra.

Maar toe die reën wéér uitsak, was De Kock se spogbeurt pure verniet. As die spelers net ʼn klein rukkie langer op die veld gebly het, sou Suid-Afrika ʼn yslike netto lopietempo-inspuiting gekry het.

Die Proteas speel Donderdag teen Bangladesj in Sydney.

  • Opsomming van telkaart:

Zimbabwe 79/5 in 9 boulbeurte: Wessly Madhevere 35*, Lungi Ngidi 2/20 en Wayne Parnell 1/6.

Suid-Afrika 51/0 in 3 boulbeurte: Quinton de Kock 47 vanaf 18 aflewerings.

Uitslag: Wedstryd eindig onbeslis.

  • Spanne:

Suid-Afrika: Temba Bavuma, Quinton de Kock, Rilee Rossouw, Aiden Markram, David Miller, Tristan Stubbs, Wayne Parnell, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Lungi Ngidi.

Zimbabwe: Regis Chakabva, Craig Ervine, Sean Williams, Sikandar Raza, Wessly Madhevere, Milton Shumba, Ryan Burl, Luke Jongwe, Richard Ngarava, Tendai Chatara en Blessing Muzurabani.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokkies ·

Zimbabwe het die spel baie stadig gemaak toe SA kolf. Die kolwers het sommer gegly, dan is daar weer ‘n besering. Hulle het die tyd vertraag.

George ·

Als in die reels van die spel. Hulle keeper het rond gegly, bowler uit weens besering toe hy gly. So hulle was 100% reg om vrae te vra. Moenie vir een oomblik dink dat SA nie dieselfde sou doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.