Rilee en kie in Blast-uitspeelstryd

Rilee Rossouw. Foto: Twitter.

Somerset speel vandag in een van die Vitality Blast-halfeindstryde teen Hampshire op Edgbaston in Birmingham. En die hoofrede vir Somerset se mik-en-moker-sukses is ongetwyfeld Rilee Rossouw.

Die 32-jarige Suid-Afrikaner se kolf word deesdae met ’n kanon vergelyk omdat dit so gereeld salvo’s afvuur.

In sy 15 Blast-wedstryde het hy op die kop 600 lopies teen ’n gemiddeld van 50 aangeteken. Dit is egter sy treftempo wat die meeste aandag trek – 197,36!

Hy was op sy gevaarlikste beste in die kwarteindstryd teen Derbyshire op Taunton – sy blitsige 93 lopies van slegs 36 aflewerings het toegesien dat Somerset ’n reusetelling van 265/5 in hul toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

G’n wonder die Engelse media sê Rossouw se handtekening was een van Somerset se blinkste idees nóg nie.

“Almal is mal daaroor om tyd saam met Rilee te spandeer en sy vertonings is net pleinweg verstommend. Sy kolfwerk is doodeenvoudig op ’n ander vlak en wanneer ’n mens saam met hom kolf, wil jy net elke aflewering vir ’n ses slaan. Dit is baie pret,” het Will Smeed (spanmaat) gesê.

Tom Abell – Somerset se kaptein – het ook die Suid-Afrikaner se lof besing.

“Hy is die bestendigheid vanself en sy tydsberekening is ongelooflik suiwer. Dit is vir ons almal ’n voorreg om hom deel van die groep te hê.”

Selfs die Suid-Afrikaanse keurders het kennis van Rossouw se sesslaan-avonture geneem en hy is in die Protea-groep vir die komende T20-wedstryde teen Engeland opgeneem.

Hy het laas in 2016 vir die Proteas gespeel voordat hy ’n Kolpak-kontrak met Hampshire onderteken het.

In 36 internasionale eendagwedstryde het hy 1 239 lopies vir Suid-Afrika teen ’n gemiddeld van 38,71 en ’n treftempo van 94,36 aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.