Rilee laat dit sesse in Engeland reën

Rilee Rossouw. Foto: Twitter.

Ná vyf T20-kragmetings is Rilee Rossouw die voorste lopiemaker in Engeland se Vitality-mik-en-mokerreeks.

Die linkshandige kolwer het reeds 278 lopies teen ’n gemiddeld van 92,6 en ’n treftempo van 191,72 in die kleure van Somerset geslaan. Hy het terselfdertyd die bal 18 keer oor die grenstou gestuur.

In sy jongste wedstryd het hy 30 onoorwonne lopies vanaf slegs 15 aflewerings gemoker om toe te sien dat sy span vir Glamorgan met nege paaltjies verrinneweer.

Somerset het die wenteiken van 174 lopies binne 15 boulbeurte bereik en hulle is tans tweede op die South-groep se punteleer.

Die 32-jarige Rossouw het laas in 2016 vir die Proteas gespeel voordat hy ’n Kolpak-kontrak met Hampshire onderteken het.

In 36 internasionale eendagwedstryde het hy 1 239 lopies vir Suid-Afrika teen ’n gemiddeld van 38,71 en ’n treftempo van 94,36 aangeteken. Hy het amper 5 000 lopies teen ’n gemiddeld van 29,72 gemoker tydens sy T20-verskynings.

Hy was onlangs een van die beste spelers in die plaaslike T20-reeks waar hy ’n magdom lopies vir die Knights aangeteken het.

Wayne Parnell en Simon Harmer het intussen weer speelkans vir die Proteas gekry nadat hulle ook destyds Kolpak-kontrakte onderteken het.

Dalk is dit ook tyd om vir Rossouw nader te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.