Rilee laat waai vir Delhi

Rilee Rossouw vier sy spoggerige vyftigtal. (Foto: Twitter/Delhi Capitals)

Ná ʼn paar stillerige vertonings in die Indiese Premierliga (IPL) het Rilee Rossouw uiteindelik met sy eie weergawe van die “1812 Overture” losgetrek.

Maar in plaas van kanonskote wat ritmies op die maat van Tchaikovsky se meesterstuk dans, het sy kolf kliphard die praatwerk gedoen.

Die Suid-Afrikaner het 12 grenshoue in sy onoorwonne beurt van 82 lopies van 37 aflewerings vir die Delhi Capitals teen die Punjab Kings gemoker en hy het veral sy mokervaardighede in een van Kagiso Rabada se boulbeurte uitgestal.

Rossouw het sy mede-Protea met ʼn groot ses begroet, waarna hy vriend en vyand verras het toe hy die daaropvolgende aflewering tussen die paaltjiewagter en die derdemanveldwerker na die grens gejaag het.

ʼn Aflewering of twee later was kragspel weer aan die orde van die dag toe hy die bal oor die bykantgrens gestuur het.

Rabada het 36 lopies van sy drie boulbeurte afgestaan.

Rossouw se vuurwerkvertoning het toegesien dat die Capitals 213/2 in die toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

Daarna het Liam Livingstone ʼn eenmanoorlog teen die Delhi-boulers gevoer.

Die Engelsman het 94 lopies geslaan, maar die ander kolwers kon nie veel weerstand teen Anrich Nortjé en Ishant Sharma bied nie.

Delhi is negende op die amptelike punteleer. Die span kon net vyf van sy 13 kragmetings wen.

  • Opsomming van telkaart:

Delhi Capitals 213/2 in 20 boulbeurte: Rilee Rossouw 82*, Prithvi Shaw 54 en Sam Curran 2/36

Punjab Kings 198/8 in 20 boulbeurte: Liam Livingstone 94, Atharva Taide 55 en Anrich Nortjé 2/36.

Uitslag: Capitals wen met 15 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.